Man kry 7 jaar

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Oudtshoorn met sewe vorige veroor­delings wat weer aan huisbraak en diefstal skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof sewe jaar tronkstraf opgelê.

Blake Maart (22) het op ou Kersdag 2017, terwyl hy op parool was, by ’n woning in Middelweg, Oudtshoorn, ingebreek en ’n groot aantal items, waaronder juweliersware, selfone, rekenaartoe­rusting, ’n vuurwapen en ammunisie gesteel. Die meeste daarvan is deur die polisie teruggevind.

Die staatsaanklaer, Brendon Smith, het die hof om direkte gevangenisstraf gevra omdat Maart nie van vorige kanse wat hy gegun is om te rehabiliteer, gebruik gemaak het nie.

Maart se regshulpprokureur, Eugene Roos, het toegegee dat hy nie ’n eerste oortreder is nie, maar aangevoer dat hy nie die vuurwapen en ammunisie sou gesteel het indien, soos deur die wet vereis, dit in ’n kluis toegesluit was nie.

Maart het nie homself verryk deur die gesteelde goedere te verkoop nie en die besit van die vuurwapen en ammunisie was kortstondig.

Streeklanddros JC Nortje het Maart vier jaar tronkstraf opgelê vir huisbraak en diefstal, twee jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ’n jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie kan samelopend met die vonnis van vier jaar vir huisbraak en diefstal uitgedien word.