Na ’n verwoestende brand op Vrydag 17 Julie, het Oudtshoorniete op verskeie maniere saamgestaan om Jack Claassen en sowat 27 werknemers van Smitswinkel te ondersteun.
Volgens ooggetuies het die brand vermoedelik by ’n kaggel ontstaan. Die vlamme het vinnig deur die gebou versprei, terwyl digte rook van ver sigbaar was.
Brandbestryders het onverpoos gewerk om die brand onder beheer te bring en te verhoed dat dit verder versprei. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se brandweer het ook hulp aangebied en saam met die plaaslike nooddienste op die toneel gewerk.
Ongelukkig is die hele gebou geraak deur die brand, behalwe die akkommodasie gedeelte aan die agterkant van Smitswinkel.
Die brand het nie net ’n bekende plaaslike onderneming vernietig nie, maar het ook ’n groot invloed op die inkomste en bestaansmiddele van die mense wat daar werk. Smitswinkel het 27 personeellede wat nou deur die onsekerheid ná die brand geraak word.
Twee BackaBuddy-veldtogte is intussen begin om Claassen en die 27 personeellede te ondersteun. Die veldtogte is daarop gemik om die onmiddellike finansiële druk op die Smitswinkel-familie en werknemers te help verlig terwyl hulle die pad vorentoe probeer bepaal.
Oudtshoorn en Klein Karoo Spar het ook met ’n insamelingsprojek begin om die werknemers by te staan. Geld wat deur die deelnemende winkels ingesamel word, sal gebruik word om kosbewyse aan die werkers te gee, sodat daar aan onmiddellike behoeftes voorsien word.
Die oorweldigende reaksie vanuit die gemeenskap wys hoe diep Smitswinkel oor die jare heen deel van Oudtshoorn en sy mense geword het. Inwoners, plaaslike ondernemings, vriende en getroue kliënte het boodskappe van ondersteuning gedeel en na praktiese maniere begin soek om Claassen en sy werknemers gedurende hierdie moeilike tyd by te staan.
In ’n emosionele boodskap het Claassen gesê dit is moeilik om die regte woorde te vind vir wat gebeur het.
Volgens hom was Smitswinkel nooit net ’n restaurant of ’n gebou nie.
Dit het jare se harde werk en herinneringe verteenwoordig vir almal.
“Dit was ’n plek wat soos ’n tuiste gevoel het – nie net vir ons nie, maar ook vir so baie van julle. Om dit te sien verdwyn, het ons harte gebreek,” lui die boodskap.
Claassen het gesê dat die talle boodskappe, oproepe, gebede en ondersteuning wat hulle ontvang het, hulle opnuut laat besef het hoe besonders die Smitswinkel-gemeenskap is.
Hy het ook sy dank teenoor die werknemers uitgespreek vir hul lang ure, lojaliteit en alles wat hulle gedoen het om Smitswinkel te maak wat dit was.
“Julle is nie net personeel nie. Julle is deel van die Smitswinkel-familie.”
Ten spyte van die omvang van die verlies, het Claassen bevestig dat die brand nie die einde van Smitswinkel beteken nie.
“Dit is ’n baie moeilike hoofstuk, maar dit is nie die laaste hoofstuk nie. Ons het dalk die gebou verloor, maar ons het nie die hart van Smitswinkel verloor nie.”
Hy het onderneem dat Smitswinkel herbou sal word en sterker sal terugkeer, met dieselfde warmte, karakter en herinneringe wat die onderneming oor die jare so geliefd gemaak het.
“Dit is nie totsiens nie. Smitswinkel sal terug wees.”
Niemand is tydens die brand ernstig beseer nie, en die talle diere is almal ongedeerd.
Hoewel ooggetuies aangedui het dat die brand by die kaggel ontstaan het, sal die presiese en amptelike oorsaak eers bevestig kan word nadat die toepaslike ondersoek afgehandel is. (ANGELIQUE ERASMUS)







Be the first to comment on "Gemeenskap staan saam ná verwoestende brand by Smitswinkel"