Poort kan teen Desember tydelik heropen

Foto’s verskaf.

Motoriste sal moontlik teen Desember vanjaar weer deur Meiringspoort kan ry, maar aanvanklik slegs onder streng toegangsbeheer.

Die Wes-Kaapse regering werk daaraan om ’n tydelike roete teen Desember 2026 in plek te hê, mits weersomstandighede en die herstelwerk volgens plan verloop. Die tydelike heropening sal toegang tussen De Rust, Klaarstroom en die omliggende Klein- en Groot Karoo-gebiede herstel terwyl permanente herstelwerk voortgaan.

Premier Alan Winde en die provinsiale ministers Tertuis Simmers en Anton Bredell het die Prins Albert-omgewing op Donderdag, 16 Julie, besoek. Die besoek het op die impak van die vloede vroeër vanjaar en die herstel van beskadigde infrastruktuur gefokus.
Die besoek het ook gemeenskapsbetrokkenheid ingesluit, waartydens inwoners die geleentheid gekry het om vrae oor onder meer behuising, water en ander diensleweringskwessies te stel.

Die afvaardiging het Meiringspoort en die Swartbergpas besoek en ook met inwoners van Klaarstroom en Prins Albert vergader. Verteenwoordigers van die Wes-Kaapse regering, die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit, die Prins Albert-munisipaliteit, rampbestuur, ingenieurs en ander tegniese amptenare het die besoek ook bygewoon.

Meiringspoort is tydens die onlangse oorstromings ernstig beskadig. Die vloedwater was volgens amptelike inligting ongeveer twee keer hoër as tydens die vloed van 1996.

Al 20 rivierkruisings in die poort het skade opgedoen, terwyl vier groot gedeeltes van die pad heeltemal weggespoel het.
Kontrakteurs is sedert einde Junie in die poort. Die aanvanklike opruimings- en herstelwerk het aan die De Rust-kant van die poort begin, aangesien swaar voertuie en materiaal die beskadigde gedeeltes makliker van dié kant af kan bereik.

Meer as 80 vragmotorvragte puin is reeds uit die poort verwyder. Soortgelyke herstelwerk sal ook van die Klaarstroom-kant aangepak word namate die projek vorder.

Winde het tydens die besoek gesê Meiringspoort is ’n belangrike ekonomiese en vervoerslagaar vir gemeenskappe in die streek.

“Ons fokus daarop om hierdie roete so gou moontlik te herstel om werksgeleenthede en mense se lewensbestaan te beskerm,” het hy gesê.

Hoewel die pad na verwagting teen Desember tydelik heropen kan word, sal streng toegangsbeheer aanvanklik geld. Die volledige en permanente herstel van Meiringspoort sal na verwagting minstens twee jaar duur en honderde miljoene rand kos.

Die herstelproses word bemoeilik deur streng omgewings-, ingenieurs- en erfenisvereistes. Die sentrale gedeelte van die poort, ongeveer tussen kilometer 4 en kilometer 14, is ’n nasionale erfenisterrein.

Alle herstelwerk moet daarom aan nasionale en provinsiale erfenisvereistes, omgewingsprosesse en padwetgewing voldoen.

Simmers het erken dat die sluiting van die poort ’n groot invloed op inwoners, ondernemings en besoekers het. Volgens hom word alles moontlik gedoen om tydelike toegang te herstel terwyl die permanente rehabilitasie van die pad voortgaan.

Die Swartbergpas, wat ook weens vloedskade gesluit was, is intussen ná noodherstelwerk in Junie heropen.

Padgebruikers word egter gewaarsku dat die pas nie vir swaar motorvoertuie, vragmotors en groot sleepwaens ontwerp is nie.

Swaar voertuie moet alternatiewe roetes deur Laingsburg of Willowmore gebruik en alle padtekens en waarskuwings gehoorsaam.

Die Wes-Kaapse regering het benadruk dat die beplande heropening teen Desember slegs ’n tydelike oplossing sal wees. Permanente herstelwerk sal daarna voortgaan, met die veilige heropening van die roete as die regering se prioriteit.

Lees ook:

Herstelwerk skryf nuwe hoofstuk in Meiringspoort se geskiedenis

Be the first to comment on "Poort kan teen Desember tydelik heropen"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*