Herstelwerk skryf nuwe hoofstuk in Meiringspoort se geskiedenis

Dr. Russel van Oudtshoorn bestuur sy 1902 Packard deur een van Meiringspoort se rivierkruisings – lank voordat die moderne teerpad gebou is. Foto: CP Nel Museum (digitaal aangepas)

Met herstelkoste wat op sowat R421 miljoen geraam word en ’n heropbouprogram wat na verwagting 26 maande sal duur, skryf Meiringspoort tans aan die jongste hoofstuk in sy byna 170-jarige geskiedenis. Die ikoniese poort, wat die Klein Karoo en Groot Karoo sedert 1858 verbind, het deur die jare talle vloede, herstelwerk en veranderings oorleef – maar sy rol as lewensaar van die streek het onveranderd gebly.

Volgens Helena Marincowitz se boek, Meiringspoort: A Scenic Gorge through the Swartberg Range, het die behoefte aan ’n pad deur die Swartberg reeds vroeg in die 19de eeu ontstaan.

Wolboere noord van die bergreeks het gesukkel om hul produkte na die kus te vervoer, terwyl handelaars in die binneland ’n korter en doeltreffender roete na Mosselbaai gesoek het. Teen 1854 het inwoners die Kaapse regering met petisies genader om ‘n pad deur die poort aan te lê.

Die poort is vernoem na Petrus Johannes Meiring (1799–1876), ’n boer van De Rust wat hom jare lank beywer het vir die aanleg van ’n pad deur die indrukwekkende kloof. Sy volgehoue pogings, saam met die van ander inwoners, het uiteindelik vrugte afgewerp toe die regering besluit het om die projek goed te keur.

Sir John Molteno en die bekende padbouer Andrew Geddes Bain het die roete ondersoek en aanbeveel dat ’n sogenaamde “boerepad” deur die poort gebou word.

Hoewel daar reeds destyds gewaarsku is dat die Grootrivier gereeld die pad sou beskadig wanneer dit in vloed afkom, het die voordele swaarder geweeg as die risiko’s.

Die bouwerk het in Augustus 1856 begin. Thomas Melville is aanvanklik met die projek belas, maar Adam de Smidt het uiteindelik toesig gehou oor die voltooiing daarvan.

Sonder moderne masjinerie moes werkers met handgereedskap, buskruit en groot deursettingsvermoë die pad deur die smal kloof oopkap. Die projek is binne 223 werksdae voltooi teen ‘n koste van £5 018, met gemiddeld 93 werkers wat daagliks daaraan gewerk het.

Op 3 Maart 1858 is Meiringspoort amptelik geopen. Ongeveer 250 perderuiters, sowat 100 eregaste in koetse en waens en twaalf wolwaens het deur die poort beweeg. Op dieselfde dag is die eerste vrag wol deur Meiringspoort na Mosselbaai vervoer – die begin van ’n handelsroete wat die ekonomiese ontwikkeling van die Klein Karoo ingrypend sou verander.

’n Perdekar staan in die skadu van Meiringspoort se indrukwekkende rotswande – ’n herinnering aan die dae toe die poort hoofsaaklik deur waens en perdekarre gebruik is.
Foto: Cape Archives (digitaal aangepas)


Teen 1870 is meer as een miljoen kilogram wol jaarliks deur die poort vervoer – sowat een agtste van die Kaapkolonie se totale wolproduksie. Die roete het terselfdertyd ’n belangrike rol gespeel in die groei van nedersettings soos De Rust en Klaarstroom.

Die Grootrivier het egter deur die jare bewys dat dit die laaste sê het. Vloede het die pad herhaaldelik beskadig en groot herstelwerk was gereeld nodig.

In 1885 is Thomas Bain weer betrek om verbeterings aan die suidelike ingang van die poort te ontwerp nadat groot dele van die pad weggespoel is.

Vir dekades het ossewaens, perdekarre en later die eerste motors hul pad deur die talle driwwe van Meiringspoort gevind.
Die Grootrivier is telkens oorgesteek voordat die roete uiteindelik tussen 1966 en 1971 gemoderniseer en geteer is.

Onder leiding van die jong siviele ingenieur Roy Petersen is die nuwe pad so ontwerp dat die natuurlike skoonheid van die poort so min as moontlik versteur word. Die geteerde pad is op 3 Augustus 1971 amptelik geopen.

Vandag is Meiringspoort veel meer as net ’n verkeersroete. Dit is een van die Klein Karoo se bekendste landmerke en lok jaarliks duisende besoekers wat die indrukwekkende rotsformasies, waterval en natuurskoon kom beleef.

Die huidige herstelwerk na die onlangse vloede is daarom nie ’n uitsondering in Meiringspoort se geskiedenis nie, maar bloot die jongste hoofstuk in ’n verhaal wat al byna 170 jaar lank voortduur.

Soos geslagte voor hulle, werk ingenieurs en padspanne weer daaraan om hierdie historiese poort veilig en toeganklik te hou – ’n bewys dat Meiringspoort, ondanks die krag van die natuur, steeds sy plek as een van die Klein Karoo se belangrikste verbindingsroetes behou. (MALISSA SPIES)

Bronne: Helena Marincowitz, Meiringspoort: A Scenic Gorge through the Swartberg Range; historiese foto’s met vergunning van Cape Archives en die CP Nel Museum.