Inwoners wat sukkel om hul munisipale rekening te betaal, weet dalk nie dat hulle vir hulp kan aansoek doen nie. Oudtshoorn Munisipaliteit bied deernisondersteuning aan huis-houdings met ’n lae inkomste wat aan die vereistes voldoen. Pensioenarisse en persone met gestremdhede kan ook vir sekere afslag en gratis basiese dienste kwalifiseer.
’n Deernisaansoek beteken dat ’n huishouding by die munisipaliteit aansoek doen om verligting op sekere munisipale dienste. Dit kan gratis basiese water en elektrisiteit, asook subsidies of afslag op ander dienste insluit.
Volgens Oudtshoorn Munisipaliteit se 2026/27-begroting kan kwalifiserende huishoudings onder meer 6 kiloliter gratis water per maand en 50 gratis eenhede elektrisiteit ontvang.
Pensioenarisse kan ook, afhangend van hul huishoudelike inkomste, vir afslag op eiendomsbelasting kwalifiseer. Die huidige begroting maak voorsiening vir verskillende kortings volgens die huishouding se totale maandelikse inkomste.
Pensioenarisse met ’n gesamentlike huishoudelike inkomste van minder as R17 000 per maand kan vir ’n korting van 35% op eiendomsbelasting kwalifiseer.
Waar die huishoudelike inkomste minder as R19 500 per maand is, kan ’n korting van 25% geld, en waar dit minder as R22 000 is, kan ’n korting van 10% geld.
Persone met gestremdhede kan ook vir soortgelyke ondersteuning kwalifiseer indien hulle aan die munisipaliteit se vereistes voldoen.
Hoe doen jy aansoek?
Aansoeke word deur die munisipaliteit se Inkomstedepartement hanteer. Inwoners moet ’n aansoekvorm voltooi en die nodige bewysstukke indien.
Die presiese dokumente wat nodig is, kan van persoon tot persoon verskil. Dit kan onder meer bewys van inkomste, identiteitsdokumente en besonderhede van die munisipale rekening insluit.
Inwoners word aangeraai om vooraf by die munisipaliteit te bevestig watter dokumente hulle moet saamneem voordat hulle die aansoek indien.
Vir meer inligting kan Oudtshoorn Munisipaliteit by 044 203 3000 gekontak word.
Mense wat onseker is of hulle kwalifiseer, kan steeds navraag doen. Die munisipaliteit sal kan verduidelik watter ondersteuning beskikbaar is en watter vereistes geld.
Pensioenarisse en lae-inkomstehuishoudings kan vir hulp kwalifiseer
Foto: Unsplash - Vitaly Gariev