Mia en Luke se troudag

Bo: Mia en Luke ten Oever tydens hul mooste dag. Onder: Mia saam met haar pa, Schalk le Roux en haar ma, Liesel. Foto’s: Cape Town Wedding Photographers

Met emosionele troubeloftes, twee trourokke en persoonlike “detail” wat hul liefdesverhaal weerspieël, het Mia le Roux en Luke ten Oever op 16 Oktober by La Paris Estate in Franschhoek die knoop deurgehak.

Die voormalige Mej. Suid-Afrika het foto’s en video’s van hul groot dag op Instagram gedeel en daarmee aan volgelinge ’n kykie gegee na die viering saam met sowat 60 gaste. Blomme, drapering en kandelare in ’n sagte beige-en-goue kleurpalet het die onthaalruimte afgerond.

Dit was veral die egpaar se troubeloftes wat die betekenis van die dag vasgevang het. Luke vertel hoe Mia hom van geduld en onvoorwaardelike liefde geleer het. Hy het gesê om haar man te wees, sal altyd een van sy grootste voorregte bly.

Mia het op haar beurt haar man bedank dat hy haar waarde raaksien, haar onvoorwaardelik liefhet en haar telkens verseker dat sy genoeg is.

Vir die seremonie het Mia ’n skepping deur die Suid-Afrikaanse ontwerper Anel Botha gedra. Die rok het bestaan uit ’n geborduurde korset, kantmoue en ruim satynromp. Kant-handskoene, ’n lang sluier met delikate kant en hare wat stylvol gestileer was, het haar voorkoms voltooi.

Mia het later vir die onthaal ‘n tweede, meer noupassende rok gedra. Luke het ’n klassieke swart pak gedra.

Die viering het ook terugblikke na die begin van hul verhouding gehad. Hul paaie het op ’n Oujaarsaand op ’n vriend se appelplaas gekruis, en Luke het vooraf gebaretaal nagevors.

Toe Mia se gehoortoestel ná ’n swem in die plaasdam probleme gee en sy ontsteld raak, het Luke aangebied om haar huis toe te vergesel. Sy begrip en die moeite wat hy gedoen het om met haar te kommunikeer, het dié ontmoeting vir haar besonders gemaak.

Dié plaasverbintenis het ook op die troudag ’n plek gekry. In haar eie terugblik het Mia vertel dat gaste met ’n appelgeïnspireerde skemerkelkie verwelkom is — ’n verwysing na die appelplaas waar hulle ontmoet het.

Vir Mia was dit veral die sorg van elke klein fynigheid wat haar geraak het. Hulle het selfs klein Ada, die egpaar se wors-hondjie, deel gemaak van die dag.

Ook hul eerste dans het ’n persoonlike storie gehad. Mia het met humor op sosiale media erken dat hul dansvernuf dalk nie uitsonderlik is nie, maar dat die oefening saam met Luke van hul spesiaalste en prettigste oomblikke was. Haar boodskap aan ander paartjies, “Die dans hoef nie perfek te wees nie; dit moet hul eie wees.”

Die egpaar het hul verlowing in Julie 2025 bekend gemaak, nadat hulle dit aanvanklik privaat gehou het. Luke was ook aan Mia se sy tydens haar Mej. Suid-Afrika-reis, toe sy in 2024 die eerste gehoorgestremde vrou geword het om dié titel te wen.

Van ’n eerste ontmoeting op ’n plaas tot die uitruil van troubeloftes in die Kaapse Wynland het Mia en Luke hul volgende hoofstuk met hul geliefdes gedeel — nou as mnr. en mev. Ten Oever. Die spesiale dag was ook uitgesaai op die leefstylprogram, Top Billing. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Mia en Luke se troudag"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*