Kiesers in die Groter Oudtshoorn sal op Woensdag 4 November hul kruisies in die 2026-plaaslike regeringsverkiesing trek. Stemlokale sal van 07:00 tot 21:00 oop wees. Met die verkiesing om die draai is dit belangrik om vooraf seker te maak waar jy moet stem en watter identiteitsdokument jy moet saamneem.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) mag kiesers in dié verkiesing slegs stem by die stemlokaal waar hulle geregistreer is. Kiesers moet dus nie aanvaar dat hulle op stemdag by enige stemlokaal sal kan instap nie.
Besonderhede kan op die OVK se webwerf, www.elections.org.za, nagegaan word. Kiesers kan ook hul identiteitsnommer na 32810 SMS, teen R1 per SMS, of die OVK se WhatsApp-diens by 060 088 0000 gebruik. Die diens verskaf onder meer die kieser se stemlokaal en volgordenommer op die kieserslys. Dié nommer kan amptenare help om jou besonderhede vinniger op te spoor.
Neem die regte identiteitsdokument saam
’n Groen identiteitsboek met ’n strepieskode, ’n slim-ID-kaart of ’n geldige tydelike identiteitsertifikaat word aanvaar. ’n Bestuurslisensie, paspoort, studentekaart of fotokopie van ’n identiteitsdokument kan nie gebruik word om te stem nie.
Waarom kry jy drie stembriewe?
Kiesers in ’n plaaslike munisipaliteit soos Oudtshoorn ontvang drie stembriewe. Een is vir die kandidaat wat hulle as wyksraadslid wil hê, een is vir ’n politieke party op die plaaslike munisipale raad en die derde is vir ’n politieke party op die distriksraad.
Lees elke stembrief noukeurig voordat jy jou keuse maak. Die wyksbrief vra ’n keuse tussen kandidate, terwyl die ander twee ’n keuse tussen politieke partye vra.
Só werk die stemproses
By die stemlokaal sal ’n amptenaar jou identiteitsdokument en besonderhede op die kieserslys nagaan. Jou duimnael word met onuitwisbare ink gemerk voordat jy jou stembriewe ontvang. Maak seker dat die agterkant van elke stembrief gestempel is.
Jy maak jou kruisies privaat in die stemhokkie. Maak een duidelike kruisie in die toepaslike blokkie op elke stembrief. Vou daarna die stembriewe toe en plaas dit in die stembus soos die amptenare aandui.
Indien jy ’n fout maak, vra hulp voordat jy die stembrief in die stembus plaas. Moet ook nie ’n foto van jou gemerkte stembrief neem nie.
Kiesers met ’n liggaamlike gestremdheid of sigbeperking kan hulp by die stemlokaal vra. Die voorsittende beampte kan verduidelik hoe dié bystand verleen word.
Spesiale stemme vind vooraf plaas
Goedgekeurde spesiale stemme word op 2 en 3 November uitgebring. Aansoeke hiervoor het reeds op 12 Oktober om 17:00 gesluit.
Die reëlings sluit stemme by stemlokale en goedgekeurde huisbesoeke in vir kiesers wat weens hul fisieke toestand nie ’n stemlokaal kan bereik nie.
Om te stem is ’n geleentheid om jou stem te laat hoor oor die toekoms van jou gemeenskap. Elke kruisie dra by tot die keuses en besluite van ons dorp, dienste.
Verandering gebeur nie oornag nie, maar deur deel te neem, help ons bou aan ’n Groter Oudtshoorn en beter Suid-Afrika waar meer mense met hoop na môre kan kyk.
Stemming op 4 November: Wat kiesers moet weet

Be the first to comment on "Stemming op 4 November: Wat kiesers moet weet"