Delport Broers se sybokhaar blink uit

Phillip Schutte (links) en Bernard Delport by die baal sybokhaar wat die hoogste prys van R950 per kilogram op The House of Fibre-veiling van 20 Oktober behaal het. Foto: House of Fibre Facebook.

Toe Bernard en Johannes Delport in 2017 hul eerste 300 Angora-ooie gekoop het, was hulle “vrek benoud” oor wat hulle aangevang het. Nege jaar later het dié broers van Middelplaas buite De Rust die hoogste prys op ’n sybokhaarveiling behaal waar die mark onder druk was.

Hul topbaal van 89,5 kg het op die vierde The House of Fibre-veiling van die winterseisoen, op 20 Oktober, R950 per kilogram behaal.

Volgens The House of Fibre se markverslag het pryse oor al die ouderdomsgroepe van bokke gedaal weens minder belangstelling uit Oosterse markte. Die makelaar het Bernard en Johannes spesiaal gelukgewens met hul uitstekende uitslag.

The House of Fibre is ’n sybokhaarmakelaar wat produsente se skeersels namens hulle op veilings verkoop.
Vir die broers van Delport Broers Boerdery is dié prestasie ’n beloning vir die daaglikse werk wat agter ’n goeie skeersel lê.

“Dit is altyd lekker om beloon te word en veral as daar baie harde werk in ’n skeersel ingaan is dit lekker om die vrugte te pluk,” sê Bernard.

Hy het ’n goeie prys vir die topbaal verwag, maar nie die hoogste prys van die dag nie.

Volgens Phillip Schutte, ’n tegniese adviseur van The House of Fibre wat ook as BKB-veldbeampte die Delport Broers bystaan, is die baal as Super Styl Winter-kleinbokkiehaar geklassifiseer, met ’n mikronfynheid van 25,2 en ’n skoonopbrengs van 92,2%.

Hy verduidelik dat dié klassifikasie na fyn sybokhaar van ’n kleinbokkie se tweede skeer verwys. Die skoonopbrengs dui op die persentasie skoon, bruikbare vesel wat die verwerker verder in die waardeketting kan gebruik.

“Hierdie uitsonderlike baal voldoen aan al die faktore wat sybokhaar klassifiseer as wêreldklas,” vertel Schutte.

Volgens hom beklemtoon dit die waarde van gehalteproduksie en die sorg en toewyding wat nodig is om premium-sybokhaar vir die internasionale mark te lewer.

Hoewel die jongste uitslag rede tot vreugde gee, is dit nie die broers se persoonlike beste nie. Op die veiling van 21 April vanjaar het hulle R1 030,10 per kilogram behaal, hul hoogste prys tot dusver.

Die vierdegeslagboerdery is sowat 6 km buite De Rust. Die broers het in 2017 hul skaapgetalle verminder en met Angorabokke begin boer. Volgens Bernard het die bokke se laer voerinname en die gehalte sybokhaar wat in die Klein Karoo geproduseer word, hulle laat besluit om dié rigting in te slaan.

Ondanks hul aanvanklike senuwees het die liefde vir Angora-bokboerdery begin die oomblik toe die eerste bokke op Middelplaas afgeklim het.

Die werk word tussen die familie verdeel. Johannes hanteer die groentesaad en lusern, terwyl Bernard na die diere omsien. Johannes se seun, Francois, het ook by die boerdery aangesluit en hanteer die volstruise.

Vir Bernard begin goeie sybokhaar by gesonde diere en mense wat hulle goed ken.

Daar word elke dag met die bokke gewerk. Siek diere word dadelik behandel en omdat die span gereeld tussen hulle is, merk hulle gou op wanneer iets skort. Die bokke word ook gereeld gedip om onder meer luise te voorkom.

Lamtyd is vir hom die belangrikste tyd op die plaas, wanneer die grondslag vir goeie diere gelê word.

Die boerdery het wel sy uitdagings. Hoë voerkoste plaas druk op die onderneming en omdat die bokke op aangeplante weiding eerder as in die veld wei, bly die hoër parasietlading ’n voortdurende uitdaging.

Bernard deel die erkenning vir hul sukses met sy werkers, veral Martin “Les” Witbooi.

“Hy is baie lief vir die bokke en sal dag of nag tussen hulle wees as daar fout is,” vertel hy.

Martin leer volgens Bernard vinnig en maak sy werk baie makliker. Hy sonder ook Schutte uit vir sy hulp met die klassering en seleksie van die bokke en sybokhaar.

Hy bedank ook sy gesin en familie wat hom toelaat om sy passie op die plaas uit te leef.

Wat nege jaar gelede met 300 ooie en heelwat senuwees begin het, gee die Klein Karoo vandag nog iets om op trots te wees. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Delport Broers se sybokhaar blink uit"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*