“Die beskuldigde het nie uit selfverdediging opgetree nie en moes voorsien het dat dit tot die oorledene se dood kon lei indien hy hom in die nek steek.”
Só het streeklanddros Ntsoki Moni Maandag in haar uitspraak gesê toe sy Franklin Delport (54) aan moord skuldig bevind het.
Delport het Flip Hendricks, alias “Boere”, op 8 April 2024 by die Bridgton Garage doodgesteek nadat hulle glo oor geld gestry het.
Hy het onskuldig gepleit op die aanklag van moord, maar wel skuldig op strafbare manslag omdat hy na bewering uit selfverdediging opgetree het. Dié pleit is egter nie deur die staat aanvaar nie.
Delport het Hendricks glo op die betrokke dag opgelaai en na sy huis geneem, waar hulle na bewering in ’n argument betrokke geraak het.
Hulle het daarna na die Bridgton-vulstasie gery, waar Hendricks met ’n bebloede hemp uit die bakkie gespring en ’n ent verder inmekaargesak het.
Heinrich Hunter het getuig dat hy oorkant die vulstasie op die sypaadjie gesit het toe Delport en Hendricks dié dag met ’n Corsa-bakkie daar aangekom het.
Volgens Hunter het hy gesien hoe die twee stry en hoe Delport vir Hendricks met ’n mes net onder sy sleutelbeen steek. Hy kon hoor dat hulle oor geld gestry het.
Hunter het verder getuig dat Hendricks die mes uitgetrek en weggegooi het, waarna Delport dit glo opgetel en die bloed met sy hemp afgevee het. Hy het nie gesien dat Delport homself ook gesteek het nie.
Delport het in sy pleitverduideliking erken dat hy Hendricks een keer met ’n mes gesteek het. Volgens hom het hy dit gedoen omdat Hendricks hom met die mes wou steek en hy bloot homself probeer verdedig het. Hy het aangevoer dat dit nie sy bedoeling was om Hendricks dood te maak nie.
Delport het ook ontken dat hy Hendricks geskop het terwyl dié op die grond gelê het, of dat hy die mes opgetel het.
Adv. Benito Metembo, wat namens Delport opgetree het, het dit aan Hunter gestel dat sy ge-tuienis in die hof van sy verklaring aan die polisie verskil en daarom onaanvaarbaar is.
Delport, wat tot met sy skuldigbevinding op borgtog was, is, is daarna in aanhouding geneem. Hy kan tot 15 jaar gevangenisstraf opgelê word en bly in aanhouding tot sy vonnisoplegging op 17 September 2026. Mervan Saaiman is die aanklaer in die saak. (GARNETT WICOMB)
Uit die hof: Franklin Delport skuldig aan moord
