Klein gebare, groot verskil vir kankerpasiënte

Foto verskaf..

Na aanleiding van Die Hoorn se berig oor die nuwe kankerondersteuningsinisiatief in Oudtshoorn, het verskeie inwoners gevra hoe hulle betrokke kan raak.

Hoewel vervoer na behandeling, voorbereide etes en hulp met kinders of huiswerk steeds baie nodig is, kan inwoners ook op talle ander praktiese maniere help.

Nie almal kan geld skenk nie, maar iets wat ongebruik in ’n stoorkamer staan, ’n uur van iemand se tyd of ’n eenvoudige daad van versorging kan ’n groot verskil maak.

Mediese hulpmiddels en toerusting
Inwoners kan ongebruikte toerusting skenk of beskikbaar stel, soos:
• Rolstoele en looprame
• Krukke en kieries
• Hospitaalbeddens
• Matrasbeskermers en matrastoppers
• Eierdopmatrasse of drukverligtingskussings
• Stortstoele en badbankies
• Kommode of toiletstoele
• Verstelbare rugstutte
• Ongebruikte, verseëlde wondversorgings- en higiëneprodukte

Toerusting moet verkieslik skoon, veilig en in ’n goeie werkende toe-stand wees.

Voeding en daaglikse benodigdhede
Kankerbehandeling plaas dikwels groot druk op ’n gesin se begroting.
Mense kan help met:
• Koopbewyse vir voedings- of gesondheidskommels
• Kruideniersware- en apteekbewyse
• Voorafbereide of gevriesde maaltye
• Sop, beskuit en ander ligte etes
• Voedingsaanvullings wat deur die pasiënt se dokter of dieetkundige goedgekeur is
• Toiletware en sagte, ongegeurde persoonlike versorgingsprodukte
• Sagte musse, serpe of pruike
• Brandstofbydraes of vervoer na doktersafsprake en behandeling

Voeding, vervoer en mediese noodsaaklikhede vorm ’n belangrike deel van praktiese ondersteuning aan kankerpasiënte.
Skenk jou tyd en vaardighede

Daar is ook ’n behoefte aan mense wat pasiënte op ’n waardige en deernisvolle manier kan help met alledaagse versorging. Dit kan insluit:
• Hare was, droogblaas of liggies versorg
• Help met bad, aantrek of algemene persoonlike higiëne
• Naels versorg of vyl
• ’n Pasiënt se beddegoed was en omruil
• Ligte huishoudelike werk of tuin werk
• Inkopies doen of medikasie gaan haal
• ’n Pasiënt geselskap hou terwyl ’n familielid rus of ander verpligtinge nakom
• Help met kinders, huiswerk of troeteldiere
• Pasiënte na afsprake neem en weer veilig tuis besorg

Die doel van die inisiatief is om mense wat met kanker saamleef te laat weet dat hulle nie alleen hierdie pad hoef te stap nie. Elke bord kos, elke rit, elke hulpmiddel en elke uur wat iemand beskikbaar stel, dra daartoe by dat ’n pasiënt met meer gemak en waardigheid versorg kan word.

Persone wat hulp benodig, toerusting wil skenk of hul tyd en vaardighede beskikbaar wil stel, kan Die Hoorn kontak. Alle hulp sal volgens die spesifieke behoeftes van pasiënte gekoördineer word. (ANGELIQUE ERASMUS)

Kontak Die Hoorn:
• Kantoor: 044 272 5605
• Angelique Erasmus:
076 606 2554
• E-pos: redaksie@hoorn.co.za
• Adres: KKSP-gebou, Koöperasiestraat, Oudtshoorn

Be the first to comment on "Klein gebare, groot verskil vir kankerpasiënte"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*