Oudtshoorn se strate het Vrydag, 4 September, ’n ekstra bietjie ritme gekry toe die gemeenskap saam met die Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) Loslitdag 2026 gevier het.
Deelnemers het die oggend by die CP Nel Museum-gronde aangetree, waarna ’n optog deur Kerk- en Hoogstraat gevolg het. Die verrigtinge het daarna by die Oudtshoorn Burgersentrum se auditorium voortgegaan. Die weer het gelukkig ook saamgespeel en deelnemers kon die dag se program behoorlik geniet.
Vanjaar se tema, “Een Tromklank: Vele Ritmes” (Beat As One: Rhythm Matters), plaas die kollig op die unieke bydrae wat elke persoon tot die groter gemeenskap kan lewer en die belangrikheid daarvan dat persone met gestremdhede ten volle ingesluit word.
Loslitdag word jaarliks gevier om ondersteuning vir persone met gestremdhede te mobiliseer en ’n meer toeganklike en inklusiewe samelewing te bevorder.
Sarina Coericuis, gemeenskapsontwikkelaar by Oudtshoorn APD, sê die organisasie is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle op die dag ontvang het.
“Ons harte loop oor van dankbaarheid teenoor die gemeenskap,” het sy gesê.
Die dag het ook heelwat vermaak ingesluit. Oudtshoorn APD se eie kliënte het met ’n dansitem gewys dat ritme inderdaad saak maak, terwyl die UCC Brigade en ’n trompetspeler van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ook deel van die program was.
Loslitdag is egter veel meer as net ’n jaarlikse pretgeleentheid. Dit word landwyd gebruik om groter bewustheid oor sigbare én onsigbare gestremdhede te skep, terwyl fondse vir organisasies en projekte wat persone met gestremdhede ondersteun, ingesamel word.
Plaaslik wil Oudtshoorn APD ook die gemeenskap aanmoedig om nie net op Loslitdag betrokke te raak nie, maar deur die jaar hande te vat.
Volgens Coericuis kan inwoners en ondernemings onder meer help deur vaardighede met APD se volwasse kliënte te deel, finansiële ondersteuning te bied en persone met gestremdhede wat ondersteuning benodig, onder die organisasie se aandag te bring.
Kinders tussen twee en 18 jaar en volwassenes tussen 18 en 59 jaar met gestremdhede kan ook by APD aangemeld word. Lede van die publiek word verder aangemoedig om gevalle waar ’n persoon met ’n gestremdheid moontlik verwaarloos word, aan te meld.
“Elke bydrae, hoe klein of groot, word waardeer,” het Coericuis gesê.
Sy het namens APD haar dank uitgespreek teenoor onder meer SAPD Oudtshoorn en Bridgton, die UCC Brigade, die SAPD-motorhawe, Oudtshoorn Munisipaliteit, die departemente van Onderwys en Gesondheid, die Calitzdorp-gemeenskap, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Eden FM, Danny B wat vir die klank gesorg het, die verkeersafdeling, wetstoepassing en die breër gemeenskap vir hul aandeel in die dag. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Loslitdag vier elkeen se unieke ritme"