Calitzdorp se Angela Kotze het ’n nuwe oorspronklike enkelsnit, “Die Pyltjie en Die Liedjie”, uitgereik waarin sy kyk na hoe woorde en musiek soms veel verder reis as wat ’n mens ooit besef.
“Die Pyltjie en Die Liedjie” is op 14 Augustus vrygestel en is nou op alle stroomplatforms beskikbaar. Die musiekvideo kan ook op YouTube gekyk word.
Die Hoorn het al voorheen oor Kotze en haar musiek geskryf. Sy het van kleins af gesing en het oor die jare haar eie styl ontwikkel waarin stories oor liefde, die lewe en persoonlike ervarings ’n groot rol speel. Hoewel sy oorspronklik van Pretoria is en ook vir vyf jaar in Potchefstroom gestudeer het, het Calitzdorp later haar tuiste geword. Sy bestuur ook die gastehuis The Calitz op die dorp.
Kotze het al vertel dat sy wil hê mense moet hulself in haar musiek kan herken, maar ook soms net lekker daarop kan dans. Dit is ’n benadering wat ook in haar vorige oorspronklike liedjies soos “Mr. John”, “Calitzdorp”, “Witsand” en “Mej. Sonskyn” na vore gekom het. Met “Die Pyltjie en Die Liedjie” raak die storie dié keer meer nadenkend.
Die lied is geïnspireer deur Henry Wadsworth Longfellow se bekende gedig The Arrow and the Song. Die beeld van ’n pyltjie wat die lug in geskiet word en ’n lied wat sy eie pad vind, staan sentraal tot die verhaal. Die gedagte is dat ’n mens nooit heeltemal weet waar jou woorde, dade of iets wat jy skep uiteindelik gaan beland nie.
“Vir my is musiek meer as bloot vermaak. Dit is ook ’n manier om iets positiefs die wêreld in te stuur wat dalk lank daarna nog by iemand kan bly,” vertel Kotze. Die musiekvideo vir die nuwe enkelsnit is in Nieu-Bethesda verfilm. Die dorp se historiese kerk en begraafplaas vorm deel van die verhaal, met verwysings na Helen Martins se Uilhuis.
“Elke plek dra by tot die boodskap van die lied. Die kerk simboliseer die lig, hoop en positiewe invloed wat ons deur ons woorde en dade met ander kan deel. Die begraafplaas herinner ons daaraan dat die impak van wat ons sê en doen dikwels baie langer voortleef as wat ons besef.
“Die Uilhuis dien as bewys dat kreatiewe werk en ’n menslike nalatenskap geslagte lank kan voortbestaan en steeds mense se lewens kan aanraak,” vertel Kotze. ’n Spesiaal geskepte animasie verskyn ook in die musiekvideo en volg ’n jong meisie wat ’n pyltjie die lug instuur.
Dit beeld uit hoe iets kleins uiteindelik veel verder kan reik as die plek waar dit begin het.
Tradisionele Rieldans is ook in die video ingewerk en sluit aan by die gevoel van gemeenskap en die manier waarop stories oor geslagte heen voortleef.
Die musiekvideo is deur Luther van der Watt van Yellow Lemon Media verfilm, geregisseer en geredigeer. “Luther se filmiese storievertelling en oog vir detail het gehelp om die boodskap van die lied tot lewe te bring.
Sy kreatiewe visie, saam met die spesiaal ontwikkelde animasie, voeg ’n unieke visuele dimensie tot die projek by en versterk die tydlose boodskap wat die kern van ‘Die Pyltjie en Die Liedjie’ vorm,” sê Kotze.
Kotze bedank ook die mense wat saam met haar aan die projek gewerk het. StarTrax Studios was verantwoordelik vir die produksie van die lied, terwyl Jo Andri en Verno as Rieldansers deel van die musiekvideo was.
“Aan my Ma en Pa, dankie dat julle nog altyd in my geglo het, my ondersteun het en saam met my hierdie droom gedra het. Ek sou dit nie sonder julle kon doen nie.”
Kotze het ook haar waardering uitgespreek teenoor almal wat die lied reeds geluister, gedeel en ondersteun het.
“Dankie vir elke boodskap, luister, deel, kommentaar en bietjie liefde wat julle tot dusver vir ‘Die Pyltjie en die Liedjie’ gewys het. Dit beteken vir my ongelooflik baie.
“Nou is my pyltjie ook geskiet. Ek hoop hy land êrens waar hy ’n hart kan raak.” (MALISSA SPIES)
Lees ook:
Klein Karoo se natuurskoon en talent steel die kollig
