Kallieklip kry lekker voetstamp treffer

Angela Kotze, het ’n splinternuwe liedjie getiteld Calitzdorp geskryf en uitgereik. Foto verskaf

Calitzdorp, of Kallieklip soos daar soms na die oulike Karoodorpie verwys word, sowat 60 km vanaf Oudtshoorn, spog met sy eie splinternuwe liedjie uit die pen van Angela Kotze.

Angela (25) was voorheen ’n stadsjapie, en het sowat drie jaar gelede na die dorp getrek en haar hart daar verloor.

“Dit was nog altyd ’n droom vir my om in die Karoo te bly. Voor ek getrek het, het ek groot geword in Pretoria en ek het vir 5 jaar op Potchefstroom studeer,” vertel sy.

Vir haar was een van die grootste aanpassings om gewoond te raak daaraan dat alles nie sommer net vrylik beskikbaar is nie, en dat verskeie benodighede nie altyd beskikbaar is in die dorp nie.

“Hier in Calitzdorp in die Klein Karoo is dit so bietjie anders.

Dit is ’n tipiese klein dorpie. Vir iemand wat die stad gewoond is, is dit nogal verbasend hoe lief ek vir die plek geraak het, vandat ek hier bly.”

Vir haar is die rustigheid, skoonheid, en die wonderlike mense van die gemeenskap juis wat haar geïnspireer het om vir die dorp ’n liedjie te skryf.

“Die doel van die liedjie is om meer mense bewus te maak van Calitzdorp en wat hierdie interessante Klein Karoodorpie het om te bied,” sê Kotze.

Haar enkelsnit, Calitzdorp is op 8 Junie 2024 vrygestel, en is deur Jo Ellis verwerk.

Die hoofinstrument is die ukelele, wat sy self speel, maar die liedjie bevat ook verskeie klanke van verskeie Afrika kulture se ritmes en wysies.

“Die lied sal jou behoorlik laat skoffel op die dansvloer, en ’n glimlag op gesigte sit,”

Sy het haar liedjie vanjaar by die Calitzdorp Winterfees gesing, waar Calitzdorp se eie Kallieklip Vastrappers, ritmies op die liedjie die tradisionele rieldans uitgevoer het.

Haar droom is dat die nuwe unieke liedjie almal wat daarna luister, laat voel of hulle Calitzdorp ervaar en hul belangstelling prikkel sodat hulle ’n draai in die dorp maak, en al die wonderlike besienswaardighede beleef. Volg haar gerus op Facebook: Angela Kotze, waar belangstellendes na haar liedjie kan luister en deel. Die liedjie is ook beskikbaar op Spotify, Apple Musiek en alle ander musiekplatvorms.