Regte adres, vals kliënt: Só werk die WhatsApp-slenter

’n Bekende gesig op WhatsApp, ’n oproep van iemand wat bekend klink en ’n ligging wat jou na die regte adres neem. Dit is van die besonderhede wat ’n WhatsApp-slenter in Oudtshoorn geloofwaardig laat lyk. Die Hoorn is bewus van verskeie mense wat op dié manier om die bos gelei is.

’n Persoon wat verkies om anoniem te bly, het Die Hoorn genader oor die slenter, waarin bedrieërs hulle as bekende inwoners voordoen en dié mense se foto’s as WhatsApp-profielfoto’s gebruik. Volgens die bron kan die stem aan die ander kant van die lyn ook oortuigend klink. As die persoon wat nageboots word byvoorbeeld ’n ouer man is, kan die beller ook soos ’n ouer man klink.

Kontrakteurs is onder dié wat geteiken word. Die gesprek kan begin met ’n navraag oor ’n kontrak, ’n bestelling of ’n werk wat gedoen moet word. In een weergawe van die slenter sê die beller dat Wi-Fi geïnstalleer of geaktiveer moet word en vra hy die kontrakteur om intussen die bedrag te betaal. Die belofte is dat die geld uit die kleinkas terugbetaal sal word sodra die betaalstrokies ingedien word.

Die beller maak ook ’n afspraak en stuur ’n ligging op WhatsApp. Die adres bestaan en die ligging neem die persoon na die regte plek, maar wanneer die persoon daar opdaag, is die vermeende kliënt nêrens te sien nie. Die Hoorn is bewus van vorige gevalle waarin bestaande plekke in Oudtshoorn ook gebruik is om bedrog geloofwaardig te laat lyk.

Bel die persoon op ’n nommer wat jy reeds ken: As ’n bekende persoon jou van ’n ander nommer af kontak en vra dat jy geld voorskiet, bel die persoon op die nommer wat jy reeds vir hom of haar het. As die versoek glo van ’n onderneming kom, bel die onderneming se kantoor op ’n nommer wat jy self opgesoek het. Bevestig die werk, die afspraak én die betalingsversoek voordat jy enige geld oorbetaal.

As jy reeds betaal het en bedrog vermoed, kontak jou bank se bedrogeenheid dadelik. Hou skermgrepe van die gesprek, die betrokke telefoonnommer en die betaalbewys vir jou bank en ’n polisieverslag.

Lees ook:

Black Friday deals or deception?

Residents warned of new scam

Be the first to comment on "Regte adres, vals kliënt: Só werk die WhatsApp-slenter"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*