Die DA het tien van Oudtshoorn se 13 wyke gewen, maar die party se planne vir die burgemeesterskap bly onseker nadat die party geen proporsionele verteenwoordigingsetels (PR-setels) in die nuwe raad ontvang het nie.
Dit laat ’n vraag oor die party se burgemeesterskandidaat, Henricus “Rickey G” Gysman, wat slegs op die DA se proporsionele lys verskyn het en nie as ’n wykskandidaat verkies is nie. Met die DA wat geen PR-setels verwerf het nie, is dit nog onseker hoe die party sy burgemeesterskandidatuur gaan hanteer en wie uiteindelik vir dié pos benoem sal word.
PR-setels vul ’n party se wyksraadsetels aan sodat sy totale verteenwoordiging in die raad sy aandeel in die stemme weerspieël. Die DA se totale toekenning is tien setels, wat reeds almal deur die wykswenners gevul word.
Die Hoorn het die DA om terugvoer oor Gysman se posisie en die party se koalisieplanne gevra. Teen druktyd is geen antwoord ontvang nie. Volgens inligting aan Die Hoorn moet die DA se leierskap eers ’n besluit neem voordat die party plaaslike planne kan finaliseer.
Gysman het intussen sy waardering uitgespreek teenoor mense wat hom die afgelope jaar ondersteun het.
“Dit was sonder twyfel die moeilikste jaar van my lewe, maar terselfdertyd by verre die mooiste en beste tyd van my lewe.”
Hy het mense bedank vir hul boodskappe, oproepe, gebede en aanmoediging. “Hierdie jaar het my op soveel maniere verander. Dit het my geleer om die klein dingetjies meer raak te sien, mense meer te waardeer en nooit die mooi in die lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie.” Sy boodskap het geen besonderhede oor sy politieke toekoms of die burgemeesterskandidatuur bevat nie.
Wie gaan saam regeer? Die DA is die grootste party in die nuwe raad, maar het drie setels nodig vir ’n volstrekte meerderheid.
Die ANC het vyf setels, waarvan drie wyksraadsetels en twee PR-setels is. Die PA en VF Plus het elk drie PR-setels. Advieskantoor, ICOSA, RAM en BCA het elk een PR-setel.
Vergeleke met 2021 het die DA sy seteltal van sewe na tien verhoog en die ANC het van agt na vyf gesak.
Die DA se wykswenne het van vier in 2021 na tien vanjaar gestyg. Die ANC het destyds agt wyke gewen, teenoor drie vanjaar.
Volgens die huidige seteltalle kan die DA saam met óf die VF Plus óf die PA presies 13 setels hê. Die DA en ANC se gesamentlike totaal sal 15 wees. Sonder die DA sal die ANC, PA en VF Plus saam elf setels hê en nog minstens twee nodig hê vir ’n volstrekte meerderheid. Dié berekeninge wys watter kombinasies moontlik is. Die uiteindelike samewerking sal deur die partye se onderhandelinge en besluite bepaal word.
Wie neem die burgemeesterstoel? Die OVK het die verkiesing op Sondag 8 November tydens ’n geleentheid wat president Cyril Ramaphosa bygewoon het, vry en regverdig verklaar. Die munisipale bestuurder moet die eerste vergadering binne 14 dae nadat die raad verkose verklaar is, byeenroep.
By die eerste sitting moet raadslede ’n speaker uit hul geledere verkies. Die raadslede verkies die burgemeester uit hul eie geledere.
Die amptelike inhuldiging van Oudtshoorn se nuwe munisipale raad vind Woensdag 18 November om 09:00 in die banketsaal plaas.
Volgens die munisipaliteit se kennisgewing is die geleentheid oop vir die publiek. Sitplek is beperk en inwoners wat dit wil bywoon, moet reeds om 08:30 hul plekke op die galery inneem.
Noue oorwinnings in verskeie wyke
Van die wykgevegte is met klein stemverskille beslis. In wyk 9 het die DA se Burneline Harmse 435 stemme gekry, net 17 meer as die ANC se Josua Roché van Aardt met 418. Harmse het die wyk met 21,2% van die geldige wykstemme gewen.
In wyk 5 het die ANC se Claudine Lukas met 583 stemme gewen, teenoor die DA se Moos Williams se 548. Die verskil was 35 stemme. In wyk 11 was die DA se Klaas Booysen met 450 stemme net 50 voor ICOSA se Barbara Vicky Owen met 400.
Anél Berry het in wyk 7 die hoogste wenpersentasie onder die 13 wykswenners behaal, met 59,8%. Net in wyke 2, 3 en 7 het die wenkandidaat meer as die helfte van die geldige wykstemme ontvang.
Die gepubliseerde OVK-opkomssyfer vir Oudtshoorn is 47,3%, wat beteken minder as die helfte van die geregistreerde kiesers het gestem. Die kieserslys het van 52 233 in 2021 tot 56 473 vanjaar gegroei, ’n toename van 4 240.
Die DA se verkose wyksraadslede is Johan Fourie in wyk 1, Andrew Kühn in wyk 2, Jackie Meyer in wyk 3, Fielies September in wyk 4, Jerome Lambaatjeen in wyk 6, Anél Berry in wyk 7, Burneline Harmse in wyk 9, Klaas Booysen in wyk 11, Samuel Meiring in wyk 12 en Werner Meyer in wyk 13.
Die ANC se wyksraadslede is Claudine Lukas in wyk 5, Mziwoxolo “Zoe” Tyatya in wyk 8 en Sharon van Rooyen in wyk 10.
Klier hier vir meer besonderhede oor Oudtshoorn se verkiesingsuitslae, die setelverdeling en die uitslae per wyk.
Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die verkose partye en raadslede gelukgewens en gesê die fokus moet nou na regering en diens aan gemeenskappe verskuif.
Volgens hom verwag inwoners dat hul verteenwoordigers hul lewens sal verbeter, ongeag vir watter party hulle gestem het. Sy departement sal munisipaliteite gedurende die oorgang met prosedures en wetlike vereistes bystaan.
Bredell het beklemtoon dat inwoners hul munisipaliteite uiteindelik beoordeel aan lopende water, betroubare elektrisiteit, paaie wat onderhou word en die dienste wat hul gemeenskappe ontvang.
Dít behoort volgens hom die fokus vir die volgende vyf jaar te wees. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Vrae oor DA se burgemeesterskandidaat nadat die party tien wyke verower het"