Toiletkwessie spoel voort

Die toestand van sommige Chemiese toilette. Foto: Verskaf

Die situasie oor mobiele toilette, wat die afgelope drie jaar in die spervuur is, blyk dat dit nie gou opgelos gaan word nie.

Die betrokke maatskappy aan wie die tender in 2021 toegeken is, het weer die R20 miljoen tender om vir nog drie jaar toilette te verskaf aan verskeie nedersettings in en om Oudtshoorn gekry.

Die vraag op almal se lippe is egter, hoe dit gebeur het, aangesien die vorige maatskappy wat vir 12 jaar die kontrak gehad het tot 2021, se tenderaansoek suksesvol was en sou hul die kontrak op 1 Julie 2024 oorneem.

Die Hoorn het met Philip Olivier, eie-naar van Top Loo’s gesels wat takke in George, Mosselbaai en Oudtshoorn het.

Volgens Olivier het hy weer vir die tenderaansoek gedoen om vanaf 2024 tot 2027 mobiele toilette te verskaf.

Sy tender was suksesvol, en het hy op Donderdag 29 Junie 2024 begin om van die mobiele toilette uit te sit.

Sowat ’n 1 000 mobiele toilette moet volgens die tender verskaf word.

“Die volgende dag, kom die balju vroegoggend by my deur aan met ’n hooggeregsbevel, waarin geskryf word dat ek vir alle kostes verantwoordelik gehou sal word, omdat ek geweld aanhits,” vertel hy.

Olivier, Top Loo’s, Leon Campher, Informele nedersettings, Clive Williams Thosamile Fortuin, Jolin Loggenberg en die Oudtshoorn Munisipaliteit is respondente in die hewige dokument
Die saak kom vandag, Vrydag 26 Julie 2024 om 10:00, in die hooggeregshof in Kaapstad voor.

Olivier vertel dat die maatskappy wat hom en ander dagvaar aanvoer dat die hof moet beslis aan wie die tender toegeken moet word.

“Ek het ’n brief aan die munisipaliteit geskryf, waarin ek hul in kennis stel dat ek onttrek van hierdie tender, ek sien nie kans om weer deur al hierdie kostes te gaan soos drie jaar gelede nie,” sê Olivier.

In 2021 is die tender aan die betrokke maatskappy toegeken, nadat Top Loo’s reeds die tender gekry het.

“Die Munisipaliteit het my in kennis gestel dat daar êrens ’n fout ingesluip het tydens die tenderproses en dat ek weer moet aansoek doen. Dit is toe dat die ander maatskappy ook aansoek gedoen het om te tender”.

Met die tweede tender is die kontrak toe aan hierdie maatskappy toegeken, en wou hul Top Loo’s se toerusting en toilette oorneem.

“Ek het aan hulle meegedeel dat ek nie my toerusting aan hul gaan gee nie, en dit blyk dat hulle toe toilette, sommige half vol en sonder deure gaan aflaai het in die verskeie nedersettings,”

Dit blyk dat die gemeenskap se ongelukkigheid en gemoedere hoog geloop het vanaf die aanvang van die nuwe kontrak.

Melding is gemaak van toilette wat oorvloei, stukkend is en nie volgens die kontrak, tweemaal per week gediens word nie.

Foto’s en video’s is gemaak van ’n trok wat riool op die pad stort in Volmoed. Die Hoorn het verskeie kere in 2021, 2022 en 2023 berig oor die situasie.

Leon Campher, voormalige raadslid en gemeenskapsleier, het volgens verskeie sosiale mediaplasings op Facebook mel-ding gemaak van die probleme wat inwo-ners ervaar met die huidige maatskappy en dit by die munisipaliteit ingedien.

Daar is ook vergaderings gereël oor die drie jaar tydperk waar die gemeenskap met die verskaffers, wyksraadslede en ’n afgevaardigde van die maatskappy gepraat het, maar dit blyk hierdie klagtes het op dowe ore geval.

Hy is ook gedagvaar deur die maatskappy, om onder andere sosiale media-inskrywings waarin die maatskappy se naam genoem word teen verlede Vrydag, 19 Julie 2024 om 10:00 te verwyder.
Sy sosiale media-plasings maak mel-ding van die ontevredenheid oor die gehalte van die mobiele toilette, die toe-stand waarin dit is, die gesondheidsgevare wat die toilette inhou, veral die wat nie gediens word nie en riool wat oorloop.

“Van die mense het na Legal Aid gegaan, vir hulp nadat hulle ’n dagvaardiging ontvang het. Ek het al ’n jaar en ’n half hieroor gekla by die munisipaliteit. Die mense het nie die regte dienste gekry nie.

Die toilette is stukkend, met af deure en voldoen nie aan die vereistes nie. Van die toilette word half gesuig, maar die munisipaliteit het nooit die klagtes ondersoek nie, so hulle is net so skuldig soos die maatskappy wat nie die regte diens gelewer het nie,” sê Campher.

Die optog wat deur Campher vir gister, Donderdag 25 Julie 2024 beplan was, waar hul ’n memorandum met meer as 500 handtekeninge aan die munisipaliteit gaan oorhandig, is geskuif na Dinsdag 31 Julie 2024.

Die rede vir die skuif van hierdie optog is as gevolg van ’n raadsvergadering wat Donderdag plaasgevind het.

In ’n berig van Oktober 2021 is daar deur die maatskappy onderneem om by te dra tot studiebeurse, internskappe/vakleerlingskappe en maatskaplike ont-wikkelingsinisiatiewe.

Dit is nie duidelik of die bogenoemde beloftes nagekom is nie.

’n Mediaverklaring is op Dinsdag 23 Julie 2024 deur die senior kommunikasie- beampte Aurelia Mle, uitgereik, waarin die munisipaliteit bevestig dat die tender weer aan die huidige maatskappy uitgereik is, nadat Top Loo’s hul bod teruggetrek het.

Die verklaring lees soos volg: Die munisipaliteit het na noukeurige oorweging die kontrak aan die huidige verskaffers van mobiele toilette toegeken.

Daar is op 8 Julie 2024, met lede van Black Joint in gesprek getree, alhoewel die opkoms skraal was.

Voormalige werknemers van die maatskappy, Lauren Jones menslike nedersettingsbestuurder en die wyks-raadslid, Zoe Tyatya het die vergadering bygewoon. Bekommernisse en nuwe ver-anderinge is tydens die vergadering bespreek.

Die Munisipaliteit vra ook dat enige probleme en klagtes skriftelik aan die Menslike Nedersettingskantoor aange-meld word, sodat daar aandag daaraan gegee kan word.

“Die diensverskaffer moet die chemiese toilette minstens twee keer per week en die BBP-eenhede een keer per maand bedien.”

“Daarbenewens moet die draagbare nie-spoel chemiese en VIP-toileteenhede ongeveer op ’n eenheid per vyf huishoudings se basis gebruik word.

Hierdie eenhede moet in ’n higiëniese toestand vir die geteikende informele nedersettings gediens, skoongemaak, ontsmet en onderhou word,” lui die verklaring.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit bly daartoe verbind om die lewensgehalte van al sy inwoners te verbeter en doeltreffende dienslewering te verseker, sluit die verklaring af.

Die Hoorn het ’n navraag aan die maatskappy se prokureursfirma gestuur vir kommentaar, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

E-posse is ook na die maatskappy ge-stuur vir kommentaar, maar geen terugvoer is ontvang nie.