SA oortref inentingsteiken teen bek-en-klouseer

Die Wes-Kaapse minister van landbou, Ivan Meyer (links), saam met Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. Strydom het onlangs ’n ministeriële toekenning ontvang vir sy bydrae en leierskap in die stryd teen bek-en-klouseer in die provinsie. Foto: Facebook

Meer as 90% van Suid-Afrika se beeskuddes is teen bek-en-klouseer (BKS) ingeënt en nuwe uitbrekings het volgens die minister van landbou skerp afgeneem. Dit bied vooruitsigte op beter beheer oor ’n siekte wat plaaslike boere, ondernemings en landelike gemeenskappe finansieel geraak het.

Hoewel die jongste syfers positief is, is dit juis nou belangrik dat vee-eienaars nie laks raak nie. Die departement van landbou beklemtoon dat voortgesette waaksaamheid, streng bioveiligheidsmaatreëls en die toediening van versterkingsdosisse noodsaaklik bly.

Klein Karoo Saad (KKS) meld in die groep se jaarverslag vir 2026 dat die finansiële druk op veeprodusente weidingsaadverkope geraak het. Toegangsbeheer om die verspreiding van die siekte te beperk, het ook plaasbesoeke deur KKS se personeel bemoeilik.

Die minister van landbou, Willie Aucamp, het Vrydag 13 November tydens die Landbouskrywers SA se nasionale prysuitdeling in Muldersdrift aangekondig dat meer as 90% van Suid-Afrika se beeskuddes reeds teen BKS ingeënt is.

Die regering se aanvanklike teiken was om 80% van die nasionale beeskuddes teen einde Desember 2026 in te ent. Dié teiken is nou reeds oortref. Aucamp het dit as ’n groot prestasie vir die landbousektor beskryf.

“Dit toon die positiewe resultate wat bereik kan word wanneer die regering en die privatesektor mekaar die hand reik,” het Aucamp gesê.

Volgens die departement is meer as 22 miljoen dosisse entstof aangekoop en versprei. Die private-sektor het sowat vier miljoen beeste ingeënt en die staat net minder as 11 miljoen.

Op grond van dié benaderde getalle was die private sektor verantwoordelik vir sowat 27% van die beeste wat ingeënt is. Dit wys hoe belangrik die bydrae van privateveeartse, boere en ander bedryfsvennote was om saam met staatsveeartsenydienste meer beeste te bereik.

Gevolge strek verder as die plaashek
Beperkings op die vervoer van vee, gekanselleerde veilings en minder handelsgeleenthede plaas boere onder groot finansiële druk. Onsekerheid oor hoe lank uitbrekings sal voortduur, bemoeilik ook hul beplanning.

Boerderykoste hou egter nie op wanneer veeverkope beperk word nie. Werknemers moet steeds betaal, diere gevoer, infrastruktuur onderhou en skuld gedelg word, terwyl ander finansiële verpligtinge ook nagekom moet word.

Die gevolge strek verder as die plaashek. Vervoerondernemings, voerverskaffers, veeartse, landboukontrakteurs, vleisverwerkers en ander ondernemings in landelike gemeenskappe word ook geraak.

Klein Karoo Agri (KKA) meld in die groep se jaarverslag vir 2026 dat sy veeveilings- en verhandelingsafdeling se resultate die afgelope jaar onder druk was.

“Onvoldoende beskikbaarheid van entstowwe en ’n gebrek aan beheer oor bek-en-klouseer skep groot risiko’s,” lui die besturende direkteursverslag.

Volgens die verslag het die onvermoë om uitbrekings onder beheer te kry ’n groot negatiewe impak op die bedryf gehad, met veral veilingsgetalle wat geraak is.

KKS se besturende direkteursverslag beskryf hoe die verspreiding en impak van BKS in 2025 skerp toegeneem het, met verskeie nuwe gebiede wat geraak is.

“Die impak op KKS was hoofsaaklik sigbaar in die druk op verkope van weidingsaad weens die finansiële impak op produsente wat nie hul vee kon bemark nie,” lui die verslag.

Toegangsbeheer op baie plase het ook besoeke deur KKS se bemarkers en produksieadviseurs beperk.

Beter beheer oor die siekte kan mettertyd help om dié druk te verlig. Indien produsente hul vee weer makliker kan bemark, kan dit ook hul vermoë verbeter om noodsaaklike boerdery-insette aan te koop.

Waaksaamheid bly noodsaaklik
BKS is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat gespletehoefdiere soos beeste, skape, bokke, varke en sekere wildspesies aantas.

Die virus versprei deur direkte kontak met besmette diere, asook deur besmette voertuie, toerusting, voer en water. Mense wat tussen plase beweeg, kan dit onwetend op hul klere, skoene en hande versprei.

Volgens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid word BKS nie maklik na mense oorgedra nie en word dit nie as ’n openbare gesondheidsrisiko beskou nie. Die ekonomiese gevolge vir boere en gemeenskappe wat van landbou afhanklik is, kan egter verwoestend wees.

Sekere wildspesies, veral Afrika-buffels, kan die virus dra sonder om sigbare siektetekens te toon. Buffels is natuurlike draers van bepaalde BKS-virustipes in Suider-Afrika.

Ander gespletehoefwild, waaronder wildsbokke en vlakvarke, kan ook besmet raak en die virus moontlik deur direkte of indirekte kontak na vee versprei. Beheer oor kontak tussen wild en vee vorm daarom ook deel van die voorkoming van die siekte.

Agri Wes-Kaap het ook reeds tot voortgesette waaksaamheid gemaan. Die organisasie se uitvoerende hoof, Jannie Strydom, het verduidelik dit raak moeiliker om vas te stel hoe die virus versprei. “Dit is ’n stille verspreider,” het hy gesê.

Die Wes-Kaapse minister van landbou, Ivan Meyer, het ook onlangs erkenning gegee aan Strydom, wat ’n ministeriële toekenning vir sy bydrae en leierskap in die stryd teen BKS in die provinsie ontvang het.

Meyer het Strydom se rol as deel van georganiseerde landbou geloof en dit as ’n voorbeeld van vennootskap en samewerking in aksie beskryf.

Die minister van landbou, Willie Aucamp, by ’n Boran-veiling. Foto: Facebook

Immuniteit nou die prioriteit
Wes-Kaap het reeds met die volgende fase van die veldtog teen BKS begin. Dit behels die toediening van versterkingsdosisse om beeste se immuniteit te handhaaf.

Volgens Aucamp help die samewerking tussen die staat en die privatesektor om die verspreiding van die siekte te beperk en mense se bestaansmiddele en Suid-Afrika se rooivleisuitvoermarkte te beskerm.

Staatsveeartsenydienste sal met grootskaalse inentingsveldtogte voortgaan. Boere kan ook steeds vrywillig aanlyn registreer om magtiging te kry om hul eie beeste in te ent.

Die departement beklemtoon dat ’n ononderbroke voorraad entstof noodsaaklik is om die siekte te bly bestry. Volgens die departement kan entstof deur die aanlyn stelsel bestel en binne 24 uur afgelewer word.

Aucamp en die departement het veeartse, dieregesondheidstegnici, boere en bedryfsvennote vir hul werk en ondersteuning bedank.

Die departement sal steeds nou met georganiseerde landbou en individuele boere saamwerk om die siekte te bestry.

Boere wat wil registreer om hul eie beeste in te ent en entstof te bekom, kan fmd.nda.gov.za, rmis.co.za/fmd-vaccine of www.buffalo.vet besoek.

Be the first to comment on "SA oortref inentingsteiken teen bek-en-klouseer"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*