Delport Broers Boerdery buite De Rust het die derde plek in die 2026 Daidoh Championship Mohair Awards behaal. Dié toekenning gee erkenning aan die vyf produsente wie se somer-kleinbokkiehaarskeersels vanjaar die hoogste gemiddelde pryse behaal het.
Die Hoorn het onlangs oor die broers berig nadat hul topbaal op The House of Fibre se winterveiling van 20 Oktober die hoogste prys van die dag, R950 per kilogram, behaal het.
Vroeër vanjaar het hulle selfs beter gevaar toe hulle op 21 April hul persoonlike beste prys van R1 030,10 per kilogram behaal het.
Dié keer word hulle vereer vir die gemiddelde prys van hul somerskeersel, eerder as die prys van ’n enkele baal.
Mohair South Africa (MSA) bied die jaarlikse kampioenskap al langer as drie dekades saam met Daidoh aan. Dié Japanse tekstiel- en kleremaatskappy se geskiedenis strek oor meer as 140 jaar.
Bernard en Johannes Delport boer op Middelplaas, sowat 6 km buite De Rust.
Die vierdegeslagboerdery het in 2017 met Angorabokke begin toe die broers hul skaapgetalle verminder en 300 Angora-ooie gekoop het.
Bernard het vroeër aan Die Hoorn vertel hulle was aanvanklik “vrek benoud” oor dié besluit.
Die liefde vir die bokke het egter begin toe die eerste diere op Middelplaas afgeklim het.
Hy het hul sukses aan daaglikse sorg en die toewyding van hul werkers toegeskryf.
Siek diere word dadelik behandel en die span werk gereeld tussen die bokke om probleme vroeg raak te sien.
Lloyd Short van Borden Farming CC het die eerste prys in die Daidoh-kampioenskap gewen, gevolg deur David Short van David Short Farming CC.
Ná Delport Broers in die derde plek het Paul Webber van P.F. Webber vierde en Jordi van Hasselt van Van Hasselt Farming vyfde geëindig.
MSA-voorsitter Chris Hobson het by die toekennings gesê die erkenning gaan ook oor die sorg, vernuwende denke en trots waarmee die vesel geproduseer word.
Daidoh se president, Koichiro Naruse, het in ’n boodskap die geslagte se toewyding agter Suid-Afrikaanse sybokhaar erken en die maatskappy se voortgesette steun vir gehalteproduksie bevestig.
Delport Broers Boerdery onder land se beste
Marco Coetzee, hoofbestuurder van Mohair South Africa, en Bernard Delport. Delport Broers Boerdery het die derde plek in die 2026 Daidoh Championship Mohair Awards behaal.
Foto: Lizemari Jordaan
Be the first to comment on "Delport Broers Boerdery onder land se beste"