Die Oudtshoorn-polisie het ’n moorddossier en ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen nadat die liggame van polisiesersant David Jullies (46) en sy vrou Erolene (40) op Saterdag 14 November in hul huis in Toekomsrus gevind is.
Volgens die polisie is beamptes omstreeks 01:30 ná ’n skietvoorval na die woning in Petunialaan ontbied. Hulle het die egpaar met skietwonde in die kombuis aangetref. Mediese personeel het albei op die toneel dood verklaar. Die polisie het beslag gelê op ’n vuurwapen wat op die toneel gevind is.
Polisiewoordvoerder a.o. Christopher Spies, media-beampte vir die SAPD in die Suid-Kaap, het in antwoord op ’n navraag van Die Hoorn bevestig dat Julies op 10 Januarie 2005 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit het.
Hy was werksaam by die Oudtshoorn-polisiestasie se misdaadkantoor. Spies het gesê die omstandighede rondom die skietvoorval word steeds ondersoek. Die polisiebestuur het sy medelye met die familie betuig.
Die polisiediens se afdeling vir werknemersgesondheid en -welstand is aangewys om die familie en Julies se kollegas te ondersteun.
Boodskappe van medelye stroom in:
Boodskappe van medelye het ná die egpaar se dood op sosiale media ingestroom. Vriende en kollegas het herinneringe aan David en sy vrou, wat hulle as “Bubbles” geken het, gedeel en hul kinders en familie sterkte toegewens.
Jessy Smidt het in ’n huldeblyk vertel hoe sy Bubbles leer ken het nadat die gesin in haar straat ingetrek het.
Sy het haar as nederig en plat op die aarde beskryf en teruggedink aan hul laaste gesprek, toe sy vir haar vriendin gevra het hoe dit gaan. “Verewig sal jy in my hart voortleef,” het sy geskryf.
Doreen Macquinton het gesê David was soos ’n huiskind by haar en dat sy hom sal onthou as iemand wat graag grappies gemaak het. Sy het die egpaar beskryf as twee besondere mense wat toegewyd was aan hul werk en hul gemeenskap.
Morne Berry het David as ’n vriendelike, behulpsame kollega onthou. “Julle gaan beslis gemis word,” het hy geskryf. Carl Coetzee het ook sy medelye met die kinders, familie en vriende gedeel en hulle sterkte toegewens vir die tyd wat voorlê.
Besonderhede vir die egpaar se begrafnis kon nie teen druktyd bevestig word nie.
’n Gedenkdiens word op Dinsdag 24 November 2026 om 18:00 by die VGK in Bridgton gehou.
Die begrafnis vind op Saterdag 28 November 2026 plaas. Die tyd sal later bekend gemaak word.
Oudtshoorn-polisie ondersoek dood van sersant David Jullies en sy vrou
David en Erolene Jullies. Foto: Facebook
Be the first to comment on "Oudtshoorn-polisie ondersoek dood van sersant David Jullies en sy vrou"