Klein Karoo Agri het op Woensdag 11 November sy tiende bestaansjaar as maatskappy gevier tydens sy Produsente- en Verskaffersaand op Oudtshoorn. Meer as 350 gaste het die geleentheid bygewoon, waar die maatskappy sy produsente en kliënte vir hul jarelange ondersteuning bedank het.
Die aand het met ’n paar toesprake begin, waarna gaste na die Oudtshoorn-voerstoor beweeg het. Die stoor is vir die geleentheid in ’n uitstalruimte omskep waar verskaffers hul produkte ten toon gestel het. Gaste het ’n spitbraai geniet en is met ’n optrede deur die Afrikaanse sanger Appel verras. Dit was die tweede Produsente- en Verskaffersaand sedert die eerste een in 2023.
Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri, het produsente en kliënte vir hul lojale ondersteuning bedank. “Sonder die ondersteuning van ons produsente is Klein Karoo Agri niks,” het hy gesê. Hy het ook beklemtoon dat die maatskappy die breër gemeenskap dien en dat almal welkom is.
Die volgende dag, Donderdag 12 November, het 124 spelers die hitte trotseer om aan die jaarlikse Klein Karoo Agri-gholfdag by die Oudtshoorn Gholfklub deel te neem. Ná afloop van die dag het spelers by die prysuitdeling saamgekuier en die wenners hul pryse ontvang.
Tydens die prysuitdeling is R20 000 aan Eljada Nasorg oorhandig en R20 000 aan die Oudtshoorn Gholfklub geskenk. Die bydraes is veral moontlik gemaak deur die ondersteuning van Absa en die gholfdag se hoofborg, TotalEnergies.
Klein Karoo Agri vier tien jaar met produsente-aand en gholfdag
Klein Karoo Agri se voerstoor op Oudtshoorn is vir die Produsente- en Verskaffersaand op 11 November in ’n uitstalruimte omskep. Produsente en kliënte het by die stalletjies aangedoen en met verskaffers oor hul produkte gesels. Foto: Angelique Erasmus
Be the first to comment on "Klein Karoo Agri vier tien jaar met produsente-aand en gholfdag"