Die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) Wes-Kaap het Die Hoorn en sy eienaar en redakteur, Angelique Erasmus, onlangs in die kollig geplaas nadat Erasmus tweede plek in die kategorie Klein Besigheid van die Jaar behaal het.
In ’n plasing op 3 November het die AHi Die Hoorn beskryf as Oudtshoorn se eie koerant en ’n betroubare bron van plaaslike nuus, gemeenskapsverhale, sake-ontwikkelinge en belangrike inligting vir die Klein Karoo.
Die organisasie het ook die Die Hoorn-span bedank vir hul bydrae tot plaaslike joernalistiek en die gemeenskap.
“Ons is trots om julle as deel van die AHi Wes-Kaap-familie te hê,” lui die plasing.
Erasmus se tweede plek is tydens die AHi Wes-Kaap se gala-aand op 17 September by Rijké Venue in Jongensfontein aangekondig.
Die Hoorn was die enigste Oudtshoornse onderneming wat vanjaar tot die top 3 in dié kategorie deurgedring het.
Rijké is as Klein Besigheid van die Jaar aangewys, terwyl Oh My Gluten Free die Beginner Besigheid van die Jaar-toekenning ontvang het en Coffee & Cream as Gasvryheidsbesigheid van die Jaar aangewys is.
Lorna Scott, stigter en uitvoerende hoof van Inverroche Distillery, was die gasspreker vir die aand.
Ander toekennings het gegaan aan Mossel Bay Business Chamber as Sakekamer van die Jaar, Heidelberg Sakekamer as
Opkomende Sakekamer van die Jaar, Zerocrete as Opkomende Sakeleier van die Jaar en Mosselbaai APD, wat die Spesiale Voorsitterstoekenning ontvang het.
Die finaliste is aangewys nadat ’n beoordelaarspaneel die finale keuses in die onderskeie kategorieë gemaak het. Die AHi-eerbewyse gee erkenning aan entrepreneurs en ondernemings wat deur hul groei, vernuwende denke en bydrae tot hul gemeenskappe ’n verskil in die Wes-Kaapse sakeomgewing maak.
Die AHi-erkenning dra vir Erasmus ook besondere persoonlike betekenis. Haar ouma, Rika Venter, wat in Augustus 2022 oorlede is, het self ’n besondere nalatenskap in die sakewêreld gehad.
Venter het die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue in 1988 gestig en was die organisasie se eerste president. Sy was ook die eerste vrou wat in die hoofbestuur en dagbestuur van die AHi gedien het, en was ook ’n erelid.
Erasmus het Die Hoorn in 2022 oorgeneem nadat sy reeds etlike jare in die plaaslike mediabedryf werksaam was. Onder haar leiding het die koerant vanjaar sy 25ste bestaansjaar gevier en ook ’n vars nuwe voorkoms gekry.
Erasmus wou die nuus dat sy Die Hoorn sou oorneem met haar ouma deel sodra die kontrak onderteken is. Venter is egter sowat ’n week voor die ondertekening oorlede, en Erasmus kon dié besonderse nuus nooit met haar deel nie.
“Sy het ’n groot rol gespeel in my lewe en in die persoon wat ek vandag is. Sy was ’n ware rolmodel,” het Erasmus vertel.
Vir die Die Hoorn-span maak dié geskiedenis Erasmus se tweede plek des te meer besonders. Die span is trots op haar prestasie en op die erkenning wat haar werk en leiding, asook Die Hoorn se rol in die Klein Karoo-gemeenskap, ontvang het.
Lees ook:
Die Hoorn takes your business from the newspaper to the phone screen

Be the first to comment on "Angelique en Die Hoorn blink uit by AHi-gala"