Die Hoorn onder AHi top 3

Angelique Erasmus, eienaar en redakteur van Die Hoorn, saam met dr. Willie Cilliers, voorsitter van AHi Wes-Kaap, tydens verlede jaar se gala-aand. Foto: Knipoog Fotografia

Die Hoorn het ’n plek onder die top 3 van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) Wes-Kaap se Kleinbesigheid van die Jaar losgeslaan, met eienaar en redakteur Angelique Erasmus wat as finalis in dié kategorie aangewys is.

Die Hoorn is ook die enigste Oudtshoornse onderneming wat vanjaar tot die top 3 in dié kategorie deurgedring het. Die finaliste is aangewys nadat ’n beoordelaarspaneel die finale keuses in die onderskeie kategorieë gemaak het.

Die wenners word op Donderdag, 17 September, tydens die AHi Wes-Kaap se gala-aand en prysuitdeling by Rijké in Jongensfontein aangekondig.

Die AHi-eerbewyse gee erkenning aan entrepreneurs en ondernemings wat deur hul groei, vernuwende denke en bydrae tot hul gemeenskappe ’n verskil in die Wes-Kaapse sakeomgewing maak.

Erasmus het Die Hoorn in 2022 oorgeneem nadat sy reeds etlike jare in die plaaslike mediabedryf werksaam was. Onder haar leiding het die koerant vanjaar sy 25ste bestaansjaar gevier en ook ’n vars nuwe voorkoms gekry.

Die AHi-erkenning dra vir Erasmus ook besondere persoonlike betekenis. Haar ouma, Rika Venter, wat in Augustus 2022 oorlede is, het self ’n besondere nalatenskap in die sakewêreld gehad.

Venter het die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue in 1988 gestig en was die organisasie se eerste president. Sy was ook die eerste vrou wat in die hoofbestuur en dagbestuur van die AHi gedien het, en was ook ’n erelid. Erasmus wou die nuus dat sy Die Hoorn sou oorneem met haar ouma deel sodra die kontrak onderteken is. Venter is egter sowat ’n week voor die ondertekening oorlede, en Erasmus kon dié besonderse nuus nooit met haar deel nie.

“Sy het ’n groot rol gespeel in my lewe en in die persoon wat ek vandag is. Sy was ’n ware rolmodel,” sê Erasmus.

Die Hoorn-span is besonder trots op Erasmus en meen haar plek onder die top 3 is welverdiende erkenning vir die passie en toewyding waarmee sy die koerant lei en plaaslike gemeenskaps- joernalistiek bevorder.

Die Hoorn is die enigste onafhanklike, gratis gemeenskapskoerant in die Klein Karoo wat steeds weekliks in gedrukte formaat verskyn. Buiten plaaslike nuusdekking ondersteun die koerant ook gereeld skole, sportlui, plaaslike ondernemings en gemeenskapsinisiatiewe.

Die finaliste:
Beginnerbesigheid van die Jaar: Agave Health Fibres – Cornelius Petrus Young, Oh My Gluten – Kenneth en Janet Gormley, en Traditional Table – Rhona van Heerden en Pieter Crous

Gasvryheidsbesigheid van die Jaar: Coffee & Cream – Alida Prinsloo, en Skilpadbessie Eko-Kamp – Johannie Vermeulen.
AHi Kleinbesigheid van die Jaar: Angelique Erasmus – Die Hoorn, Petro Pienaar – CK Signs, Design & Laser, en Rudie en Marijké Kleynhans – Rijké.

Die finaliste word in geen spesifieke volgorde vermeld nie. Verteenwoordigers van die finaliste is genooi om die gala-aand by te woon, waar die wenners aangekondig sal word.

Die jaarlikse AHi Wes-Kaap-kongres vind die volgende dag, Vrydag, 18 September, plaas. Die program sluit sprekers, paneelbesprekings en die organisasie se Algemene Jaarvergadering in.

Kaartjies vir die gala-aand en kongres is beperk en kan aanlyn bespreek word by etickets.myahi.co.za.

Die Hoorn wens al die finaliste geluk en hou duim vas vir die aankondiging op 17 September. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Die Hoorn onder AHi top 3"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*