Vermiste Oudtshoorn-man se liggaam in veld gevind

Denzil April, se liggaam is Vrydag 13 November gevind nadat hy op Dinsdag 10 November as vermis aangemeld is. Foto: Facebook

Die liggaam van Denzil April (46), wat op Dinsdag 10 November as vermis aangemeld is, is op Vrydag 13 November in ’n veld naby Parkweg in Oudtshoorn gevind.

Die Oudtshoorn-polisie het ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen. Volgens a.o. Chris Spies, die media skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, het beamptes Vrydag omstreeks 09:10 op ’n oproep gereageer.

Met hul aankoms is hulle na die veld geneem waar April se liggaam gevind is. Die oorsaak van April se dood is nog nie bekend nie.

Volgens Oudtshoorn Community Against Crime is April op Donderdag 5 November in die Oudtshoorn-hospitaal opgeneem.
Die groep sê hospitaalpersoneel het sy familie op Dinsdagmiddag 10 November ingelig dat hy weg was. ’n Kennisgewing met sy foto en ’n beskrywing van sy kleredrag is versprei om die publiek se hulp met die soektog te vra.

Familie, vriende, lede van die gemeenskap, die polisie en die brandweer het volgens die groep van Dinsdag af na hom gesoek.
Die polisie het Die Hoorn na die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand verwys vir vrae oor April se hospitalisasie.

Die Hoorn het die departement om kommentaar genader oor wanneer April opgeneem en laas deur personeel gesien is, of hy op daardie stadium nog in die hospitaal se sorg was, en wanneer sy familie en die polisie in kennis gestel is. Die departement is ook gevra watter stappe personeel gedoen het en of ’n interne ondersoek ingestel is.

Nadia Ferreira woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het ontvangs van Die Hoorn se navraag erken, maar het teen druktyd nog nie terugvoer gegee nie.

Die Hoorn sal die berig opdateer sodra dit ontvang is.

Be the first to comment on "Vermiste Oudtshoorn-man se liggaam in veld gevind"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*