Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit staar tans geweldige uitdagings in die gesig met die padnetwerk, slaggate en verouderde waterpyp stelsel. Chris Swart, die Direkteur van Tegniese dienste, het die dringende behoefte aan herstelwerk en die impak wat hierdie kwessies op die gemeenskap het, uiteengesit.
Swart verduidelik dat die paaie in Oudtshoorn groot herstelwerk benodig. Volgens hom verskaf die basis van die pad die sterkte van die struktuur. Die asfalt wat bo-oor gegooi word is verantwoordelik vir die seel van die teer.
“Water is die grootste vyand van ’n teerpad. As water die lae binnedring, sal die pad disintegreer. Hierdie selingsprogram moet elke 10 – 20 jaar gedoen word, maar is die afgelope paar jaar agterweë gelaat in die Groter Oudtshoorn, wat tot die haglike toestand van die paaie bydra”, het Swart gesê.
Tans benodig die Oudtshoorn Munisipaliteit R800 miljoen om die paaie op standaard te bring, maar dat die jaar se begroting vir herstelwerk slegs R4 miljoen is, en vir operasionele uitgawes is dit R4,9 miljoen.
Dieselfde probleem geld vir die waterpypstelsel in die Groter Oudtshoorn, omdat die stelsel nog uit asbespype bestaan en verouderde pype vir gereelde barste verantwoordelik is.
“Hierdie asbespype moes, soos die padoppervlaktes, oor die jare onderhou en vervang word, wat nie gebeur het nie. Slegs in die laaste vyf jaar is daar pogings aangewend om die asbespype met PVC-pype te vervang”.
Die probleem is ook dat die pype onder die teerpaaie loop, wat die paaie verder beskadig as die pype bars. Die beraamde koste om die netwerk heeltemal te vervang, beloop sowat R200-R300 miljoen. Dit sal baie jare neem om die standaard te bereik met die huidige beskikbare fondse.
Die munisipaliteit se benadering is om herstelwerk te doen soos hulle kan en dan ‘n seellaag op die pad aan te wend om te verhoed dat slaggate weer vorm. Die hooffokus op die oomblik is die paaie in die middedorp, waarna die plan na ander gebiede in Groter Oudtshoorn uitgerol sal word.
“Deur die mees kritieke gebiede te prioritiseer en strategiese herstelprogramme te implementeer, poog ons om die gehalte en veiligheid van ons infrastruktuur vir alle inwoners te verbeter.”