Klein Karoo se Angela Kotze maak weer golwe

Calitzdorp se eie sonskynvrou, Angela Kotze, het weer aanhangers betower met haar nuwe enkelsnit Mej. Sonskyn, ’n lied wat lig en hoop bring, selfs in donker tye.

Angela se liefde vir musiek het reeds op ’n jong ouderdom begin. “Ek sê altyd ek kon sing nog voor ek kon praat,” vertel sy. Reeds in graad 2 het sy by solosang-oudisies uitgeblink, en teen graad 4 het sy met ligteliedjies begin optree. Na skool het sy op Potchefstroom studeer, waar sy aktief was in sêr, musiekblyspele en universiteitskonserte. Dit is ook daar waar haar eerste optredes begin het, by Snowflake. Sy onthou haar eerste groot optrede nog goed.

“Ek was in graad 5 toe ek vir die eerste keer voor ’n groot gehoor gesing het, vir omtrent 1 500 mense toe Juanita du Plessis by ons skool opgetree het. Ek het ‘99 Red Balloons’ gesing. Dit was die beste gevoel ooit!”

Die inspirasie vir Mej. Sonskyn het tydens ’n ATKV Crescendo-mentorskapprogram ontstaan, waarvan Angela ’n finalis was. “Ek het net voor die program deur ’n moeilike tyd gegaan,” vertel sy eerlik. “Maar ek het besluit om dit eenkant te sit en alles te gee. Uit daardie plek het Mej. Sonskyn ontstaan. Dit gaan oor iemand wat, ten spyte van swaarkry, steeds haar glimlag opsit en haar lig laat skyn.”

Die titel dra vir haar ’n diep persoonlike betekenis. “Ek het selfs ’n tatoeëermerk van die titel. Dit simboliseer vir my veerkragtigheid, karakter en uithouvermoë.”

Die musiekvideo, geskiet deur Luther van der Watt van Yellow Lemon Media, vat die kykers op ’n intieme reis. “Ek ry met my fiets deur die berge na ’n tatoeëerwinkel om my Mej. Sonskyn-tattoo te kry. Dit beeld groei en selfaanvaarding uit,” verduidelik sy. Die lied Mej. Sonskyn was ook in samewerking met die vervaardiger Jo Ellis. “Ek is ongelooflik dankbaar vir al die geleenthede en mentors wat my pad gekruis het. Elke ervaring het my gevorm tot die kunstenaar wat ek vandag is.”

Sedert sy van Potchefstroom na Calitzdorp verhuis het, het die dorp haar lewe en musiek verander.
“Die rustigheid en eenvoud hier het my geleer om dankbaar te wees vir die klein dinge. Dit het my ’n kalmer mens gemaak,” sê sy.

Wanneer sy nie musiek maak nie, bestuur sy haar gastehuis, The Calitz. Wanneer sy self bietjie sonskyn nodig het, draai sy na haar geloof toe. “Ek spandeer tyd in gebed en dink aan alles waarvoor ek dankbaar is. En natuurlik bring tyd saam met my gesin en vriende altyd lig in my dag.”

Angela het reeds vier enkelsnitte agter haar naam: Mr. John, Calitzdorp, Witsand, en Mej. Sonskyn. Hierdie jaar was vir haar vol hoogtepunte, maar Mej. Sonskyn bly ’n spesiale mylpaal. Vir 2026 het aanhangers ook iets om na uit te sien.

“Volgende jaar bring ek my nuwe lied Dankie uit. Dit dra ’n sterk boodskap van dankbaarheid, en dis boonop ’n lied waarop mense sommer heerlik gaan dans!” (MALISSA SPIES)