Twee Klein Karoo kunstenaars het onlangs saamgespan vir ’n vars weergawe van die gewilde lied Ek Like Jou.
Frederico Fortuin (Oudtshoorn) en Angela Kotze (Calitzdorp) het hul eie weergawe van die treffer, oorspronklik deur Da V.G en M.I.A, vrygestel en die reaksie het hulle aangenaam verras.
Grepe uit die musiekvideo, wat onder meer by die skilderagtige Calitzdorpdam verfilm is, is reeds voor die amptelike vrystelling op TikTok gedeel, waar dit meer as 70 000 kyke behaal het. Honderde mense van regoor die land het die video verder gedeel en positief daarop gereageer.
Volgens Angela gaan die projek oor meer as net musiek.
“Nie net kry ek as musikant lekker blootstelling nie, maar ons wys ook hoe mooi ons pragtige dorp regtig is,” sê Angela.
Benewens die vertolking van die bekende lied, bied die video ook ’n blik op die natuurskoon en unieke karakter van Calitzdorp en die breër Klein Karoo. Die volledige video is nou op YouTube beskikbaar.
Angela en Frederico is reeds besig om naam op die Suid-Afrikaanse musiektoneel te maak. Albei was finaliste in die 2025 ATKV-Crescendo-mentorskapprogram en het vanjaar tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) by die RSG/ATKV se Kuierkol-verhoog opgetree.
Frederico was ook as agtergrondsanger deel van die KKNK se Voluit Openingskonsert.
Angela se liefde vir musiek het reeds op ’n jong ouderdom begin. “Ek sê altyd ek kon sing nog voor ek kon praat,” vertel sy. Reeds in graad 2 het sy by solosang-oudisies uitgeblink, en teen graad 4 het sy met ligteliedjies begin optree.
“Ek was in graad 5 toe ek vir die eerste keer voor ’n groot gehoor gesing het, vir omtrent 1 500 mense toe Juanita du Plessis by ons skool opgetree het. Ek het 99 Red Balloons gesing. Dit was die beste gevoel ooit!
“Ek is ongelooflik dankbaar vir al die geleenthede en mentors wat my pad gekruis het. Elke ervaring het my gevorm tot die kunstenaar wat ek vandag is.”
Angela sê haar geloof speel ’n belangrike rol in haar lewe en musiekloopbaan. Wanneer sy deur uitdagende tye gaan, put sy krag uit gebed en fokus sy op die dinge waarvoor sy dankbaar is.
“Ek spandeer tyd in gebed en dink aan alles waarvoor ek dankbaar is. En natuurlik bring tyd saam met my gesin en vriende altyd lig in my dag.”
Vir Frederico het die afgelope jaar hom op ’n nuwe pad geneem, maar dit het hom ook gehelp om sy liefde vir musiek met vars oë te herontdek.
“Ek het groot planne vir my musiekloopbaan in 2025 gehad, maar verlede jaar het dit gevoel asof die Here my planne heeltemal verander het,” vertel Frederico.
“My kitaar het gebreek, my passie vir skryf en musiek het verdwyn, en die stilte wat gevolg het, het so hard geraas dat dit gevoel het asof my hele wêreld ineenstort en ek my gedagtes verloor.
“Na ’n lang tyd van stilstaan, begin ek nou weer my voete vind. My passie vir skryf en musiek begin weer terugkom. Ek sing, ek speel kitaar, en bo alles geniet ek dit soos nog nooit tevore nie.
“Onthou, ons kan planne maak, maar dit is altyd die Here wat bepaal. Jy is nie toevallig waar jy nou is nie; Hy het ’n groter plan met jou lewe.”
Met die positiewe reaksie op hul weergawe van Ek Like Jou is dit duidelik dat Angela en Frederico nog baie het om te bied. Hou die twee gerus op sosiale media dop — daar is nog opwindende projekte in die pyplyn. (MALISSA SPIES)
Lees ook:
Klein Karoo se Angela Kotze maak weer golwe
