Plaaslike kunstenaar Marisca Rain (Visagie) verower al jare lank musiekharte met haar passievolle optredes. Nou kan aanhangers en musiekliefhebbers haar enkelsnitte luister op gewilde musiekplatforms soos Spotify, Apple Music, Amazon Music, YouTube Music, en Deezer.
Marisca se musiekreis het op 13 begin, nie in ‘n klaskamer nie, maar in die Oudtshoorn Biblioteek, waar sy boeke gebruik het om meer oor musiek te leer. “Ek het nie musieklesse ontvang nie, en destyds was die internet nog nie soos vandag nie. My liefde en passie vir musiek was net té groot, so ek het myself geleer om instrumente te speel,” vertel sy.
Sy onthou nog helder die dag toe sy vir die eerste keer agter ’n dromstel gaan sit het. “Ek het die stokkies opgetel, begin speel, en dit het net natuurlik gevoel.” Van daar af het sy net nog instrumente opgetel. Vandag speel sy dromme, kitaar, baskitaar, ukelele, perkussie en klavier.
Marisca het gou besef dat sy ’n toekoms in musiek sien en het besluit om dit saam met drama te gaan studeer. “Ek wou net my passie uitleef,” vertel sy.
Ongeveer tien jaar gelede het sy begin optree onder haar verhoognaam Marisca Rain. “Die naam ‘Rain’ het vir my uitgestaan omdat dit iets simboliseer wat skoonmaak, vernuwe, en verfris.”
Sewe jaar later is die alternatiewe rock-trio Marisca Rain and the Thunder gebore, met Marisca as hoofsanger en kitaarspeler, Gerhard Visser op die baskitaar en Juan Pretorius op dromme. Marisca Rain and the Thunder is tans besig met nuwe materiaal, selfs ’n paar Afrikaanse snitte, en beplan om binnekort weer by die musiekvervaardiger Jo Ellis op te neem.
“By optredes het ek gou agtergekom mense is honger vir meer, maar CD’s is ongelukkig nie meer gewild nie. Gelukkig het ’n verspreidingsmaatskappy my gehelp om my musiek op digitale platforms te plaas, en in September het ek die enkelsnit Little Pig uitgereik,” verduidelik sy.
Sedertdien het nog verskeie enkelsnitte gevolg, en staan dit nou op 15 liedjies wat aanlyn beskikbaar is. Haar musiek meng elemente van rock, folk, indie en blues, en haar liedjies is dikwels persoonlik en eerlik, geïnspireer deur haar eie ervarings. Marisca noem ook die groot rol wat Jo Ellis in haar loopbaan speel.
“Nie net help hy met opnames nie, maar hy bring idees tot lewe en sy raad is goud werd.”
Nog iemand wat ’n indruk gelaat het, is die legendariese Laurika Rauch. “Ek het vir ‘n tydjie geworstel met die idee om ’n onafhanklike kunstenaar te bly. Laurika het aangeraai dat ek onafhanklik bly en my musiek soos ‘n besigheid moet bestuur. Daardie raad het vir my baie beteken en ek kan nou eg bly aan wie ek is as kunstenaar is.”
Op haar wenslys vir toekomstige samewerkings is Laurika self, maar ook ander plaaslike kunstenaars soos Amanda Strydom, Arno Carstens, Tino, en Ard Matthews.
Aan jongmense wat graag hul drome in musiek wil volg, gee sy dié raad: “Gebruik elke geleent-heid wat jy kry en bly getrou aan jouself. Skryf jouself leeg en vul weer aan met die lewe en jou ervarings.”
Marisca sê haar droom is om eendag ’n opname-ateljee in Oudtshoorn te hê waar jong, passievolle musikante die kans kan kry om hul drome te leef. Sy bied tans self musieklesse aan en hoop om ander te inspireer soos sy destyds geïnspireer is. (MALISSA SPIES)
Marisca Rain: Plaaslike stem met wêreldklank
Volg Marisca Rain op Facebook en bly deel van haar musiekreis.