
AfriForum se Oudtshoorn-tak het onlangs veiligheidsoudits by Laerskool Wesbank en Langenhoven Gimnasium uitgevoer om moontlike veiligheidsrisiko’s te identifiseer en skole te help om hul veiligheidsmaatreëls verder op te skerp.
Die oudit fokus op basiese veiligheidsaspekte soos omheinings, buitebeligting en sekuriteitskameras. Dit stel skole in staat om kwesbare areas te identifiseer en die nodige verbeterings aan te bring. Volgens AfriForum kan die oudit skole ook help om gebeurlikheidsplanne vir verskillende noodgevalle op te stel, insluitend brande, vloede, gewelddadige protesaksies en ontvoerings.
“Dit is van kardinale belang dat kinders in ons gemeenskappe in ’n veilige omgewing kan skoolgaan,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder in die Suid-Kaap.
“Skole is dikwels sagte teikens vir opportunistiese oortreders en daarom is dit belangrik om proaktief te wees. Ons kan nie toelaat dat misdaad ’n vastrapplek in ons gemeenskap kry nie. Daarom is dit vir ons belangrik om veiligheid in die gemeenskap as geheel op te skerp.”
Skole wat belangstel in ’n veiligheidsoudit, kan AfriForum se Oudtshoorn-tak kontak. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.