Die Oudtshoorniet, Lorenzo Kruger (29) wat in Viëtnam met gevorderde kanker gediagnoseer is, is uiteindelik terug in Suid-Afrika danksy die ingryping en ondersteuning van weldoeners.
Kruger het sowat ses jaar gelde na Vietnam verhuis waar hy as Engelsonderwyser gewerk het. In November 2025 is fase 3 kanker by hom gediagnoseer nadat sy toestand vinnig versleg het en hy dringende mediese hulp moes ontvang.
Hy kon nie verder werk nie en moes die geld wat hy gehad het gebruik vir mediese behandeling en hospitaal uitgawes.
Hy is in Vinmec Central Park Internasionale Hospitaal behandel, waar dokters probeer het om hom te stabiliseer sodat hy medies geskik kon wees om te vlieg. Sy paspoort het weggeraak en sy visum verval, en Kruger moes ’n boete van R26 000 betaal voor hy kon vertrek.
Die storie het egter ’n positiewe wending geneem nadat ’n veldtog en weldoeners ingespring het om sy mediese en reisuitgawes te help dek.
Kruger kon terug na Suid-Afrika vlieg, waar hy verdere behandeling en ondersteuning naby familie kan ontvang. Hy het Vrydag in Suid-Afrika aangekom ná sy lang en moeilike stryd in die buiteland.
Die verhaal het wyd aandag getrek en beklemtoon weer eens die rol van gemeenskapsorganisasies en weldoeners in noodsituasies.
Lorenzo terug in SA
Lorenzo Kruger. Foto: Facebook