Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het jagters aangemoedig om streng bioveiligheidsmaatreëls toe te pas tydens die jagseisoen om die verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) te help voorkom.
In ’n kennisgewing wat op 12 Mei deur dr. Leana Janse van Rensburg van die departement se afdeling vir dieregesondheid uitgereik is, word beklemtoon dat jagaktiwiteite ’n rol kan speel in die verspreiding van die hoogs aansteeklike virussiekte indien die nodige voorsorgmaatreëls nie getref word nie.
Volgens die departement mag geen produkte van gespletehoefdiere van eiendomme verwyder word waar daar aktiewe uitbrekings van bek-en-klouseer is of waar beperkings weens die siekte geld nie.
Jagters word verder aangeraai om, wanneer hulle wild soos springbokke, koedoes of ander gespletehoefdiere jag, koppe, pote en ingewande op die plaas te laat waar die dier gejag is.
Die departement beveel ook aan dat karkasse nie verder opgesny of verwerk moet word op plase waar gespletehoefdiere voorkom nie. Waar moontlik, moet karkasse vir sowat twee dae gehang word voordat dit vervoer word.
Jagters moet dokumentasie by hulle hê wat die oorsprong van die karkas bevestig, asook toe-stemming van die grondeienaar vir die verwydering daarvan.
Daar word ook daarop gewys dat jagters steeds aan alle vereistes van CapeNature moet voldoen, insluitend regulasies oor beskermde spesies, jagseisoene, daaglikse perke en aanvaarbare jagmetodes.
Die departement vra verder dat jagters voertuie, skoene en klere deeglik skoonmaak en ontsmet wanneer hulle plase binnegaan en verlaat.
“Doen jou deel om ons boere teen hierdie siekte te beskerm,” lui die kennisgewing.
BKS raak gespletehoefdiere soos beeste, skape, bokke en sekere wildspesies. Hoewel die siekte nie ’n bedreiging vir mense se gesondheid inhou nie, kan dit groot ekonomiese skade vir die landboubedryf veroorsaak. (MALISSA SPIES)
Lees ook:
Kollig op Jagseisoen 2026: Voor die eerste skoot
