Vir baie van die sowat 680 leerders wat Vrydagoggend, 7 Augustus, in die Burgersentrum in Oudtshoorn gesit het, was dit waarskynlik die eerste keer dat hulle die volle klank van ’n simfonieorkes van só naby kon beleef.
En stil agteroor sit en luister was beslis nie al wat van dié jong gehoor verwag is nie.
Met groot oë, breë glimlagte en gereeld op die punt van hul stoele, het graad 4- tot 9-leerders van skole onder andere regoor die Klein Karoo en Tuinroete die wêreld van klassieke musiek ontdek tydens “Inleiding tot die orkes”, een van die eerste aanbiedings van die 17de Klein Karoo Klassique
Voor hulle was strykinstrumente, hout- en koperblasers en slaginstrumente – met die energieke maestro Richard Cock as verteller en dirigent wat met sy kenmerkende humor en toeganklike styl seker gemaak het dat klassieke musiek allesbehalwe vervelig is.
Die interaktiewe program, saam met lede van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, is met die ondersteuning van die ATKV en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement moontlik gemaak.
Van die eerste note af is die gehoor ingetrek en deel gemaak van die ervaring. Cock het hulle deur die verskillende instrumentfamilies van die orkes geneem en gewys hoe elkeen ’n eie klank en karakter het, maar uiteindelik deel van ’n veel groter geheel vorm.
Selfs ’n gewone tuinslang is ingespan om te wys dat ’n mens op die mees onverwagte manier ’n klank kan voortbring wat sy plek tussen die blaasinstrumente sou kon volstaan.
Maar dit was wanneer Cock hom na die gehoor gedraai het, dat die Burgersentrum behoorlik lewe gekry het. Die kinders het self ’n rol in van die musiek gekry. Onder Cock se leiding moes hulle op presies die regte oomblikke hande klap, verskillende geluide maak en dan weer doodstil raak wanneer sy hande dit aandui.
Vir ’n paar oomblikke was daar dus nie net ’n orkes op die verhoog nie – die honderde kinders in die gehoor het deel daarvan geword, met Cock wat hulle saam met die professionele musikante dirigeer.
Die konsentrasie was duidelik sigbaar. Hulle het sy hande dopgehou, gewag vir hul teken en met groot entoesiasme gereageer wanneer hul “deel” aanbreek.
Tussen die musiek deur was daar grappies, demonstrasies en bekende musiekvoorbeelde wat gebruik is om te verduidelik hoe die verskillende instrumente saamwerk en hoe komponiste klanke gebruik om musiek te bou.
Een van die oggend se grootste hoogtepunte het gekom toe ’n jong Oudtshoorn-leerder, Marco Huy-zeras, die kans gekry het om sy plek voor die orkes in te neem. Hy is ’n vinnige les deur Cock gegee oor watter bewegings sekere instruksies aan die orkes aandui.
Met die dirigeerstok in sy hand en ’n volle simfonieorkes voor hom, het Huyzeras vir ’n paar oomblikke maestro geword en die musikante self gedirigeer – tot groot vermaak en entoesiasme van die leerders.
“Inleiding” tot die orkes het juis gewys waarom blootstelling aan kuns en musiek vir kinders belangrik bly.
Vir ’n leerder wat nog nooit ’n tjello of Franse horing, om maar ’n paar te noem, van naby gesien of gehoor het nie, was dit ’n kans om iets te beleef wat nie noodwendig deel van sy of haar alledaagse wêreld is nie.

Die oggend het ook gewys dat klassieke musiek nie net iets vir kenners of ouer gehore is nie. Met die regte aanbieding kon sowat 680 kinders vir ’n uur lank vasgenael sit, lag, deelneem en luister na ’n simfonieorkes.
Die 17de Klein Karoo Klassique, wat van 7 tot 9 Augustus in Oudtshoorn aangebied is, het weer van Suid-Afrika se voorste klassieke musici na die Klein Karoo gebring.
Die Klein Karoo Klassique het sy ontstaan te danke aan die Oudtshoorn-sakeman Nic Barrow, wat in 2009 met die idee vir dié klassieke musiekfees vorendag gekom het.
Die fees word deur die KKNK aangebied, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en ATKV, met verdere ondersteuning van onder andere Le Lude Cap Classique, RSG en die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit.
Maar Vrydagoggend was die sterre van die vertoning vir ’n slag nie net die professionele musikante op die verhoog nie. Dit was ook die honderde kinders voor hulle – hande gereed om te klap, oë vasgenael op Cock se dirigeerbewegings en ore wawyd oop vir
’n klankwêreld wat baie van hulle daardie oggend vir die eerste keer ontdek het.
Klein Karoo Klassique word volgende jaar van Vrydag 6 Augustus tot Sondag 8 Augustus 2027 op Oudtshoorn aangebied. (ANGELIQUE ERASMUS)
Lees ook:
Be the first to comment on "Jong ore ontdek die wonder van klassieke musiek"