Trane, glimlagte en ’n kerk vol liefde vir Saag

NG Kerk Park was op Maandag 5 Oktober stampvol tydens die lewensviering van Saag Jonker op Oudtshoorn. Foto: Angelique Erasmus

Rye en rye geparkeerde voertuie, ’n tou mense wat op sitplek wag en ’n kerk wat tot op die verhoog vol was. Só het Oudtshoorn Maandag 5 Oktober by die NG Kerk Park van Saag Jonker afskeid geneem — met hartseer, maar ook met ’n oorvloed liefde vir hom en sy familie.

Meer as 1 000 inwoners asook 350 personeel en die families van die Saag Jonker Groep, het die diens bygewoon. Die kerk, aangrensende kerksaal en verhoog was vol mense wat kom groet het: elkeen met hul eie herinnering aan die man wat oor die jare diep spore in die Klein Karoo getrap het.

By die aankoms het Hazel en die Jonker-seuns elke persoon persoonlik gegroet. Te midde van hul eie verlies het hulle tyd gemaak vir die mense wat gekom het om in hul hartseer te deel. Dié persoonlike ontvangs het iets weerspieël van die verbondenheid tussen die Jonkers en die gemeenskap wat hulle oor soveel jare liefgehad en help ophef het.

In die ontvangsarea het foto’s van die Jonkers deur die jare ’n lewe van familie, werk en saamwees uitgebeeld. Tussen die volstruisvere was sy aktetas en sy eerste faktuur uitgestal, asook sy sertifikaat as “Boer van die Jaar” in 2000 — eenvoudige, tasbare herinneringe aan die begin van ’n lang sakepad.

Mooi herinneringe is in die ontvangs area uitgestal, asook Jonker se heel eerste faktuur.

Jonker het die Saag Jonker Groep in 1976 gestig en ’n onderneming opgebou wat volstruisboerdery, verwerking en bemarking verbind het. In 2000 is hy as Suid-Afrika se Boer van die Jaar aangewys. Hy het ook op die rugbyveld uitgeblink: hy het vir die Oudtshoorn-rugbyklub uitgedraf en in 1967 aan die finale Springbokproewe deelgeneem.

Saag Jonker se gesegde, “Ability, Tenacity and Willpower” — vermoë, deursettingsvermoë en wilskrag — het saamgevat hoe hy sy lewe en besigheid gelei het.

Maandag het die huldeblyke egter veral die mens agter dié prestasies na vore gebring: ’n pa, oupa en eggenoot wie se familie hom met liefde, eerlikheid en humor onthou.

Ds. Andries Potgieter van Welgeluk het die diens gelei. Dit was ’n waardige en diep emosionele afskeid, waarin musiek en familieherinneringe ruimte gemaak het vir sowel die pyn van verlies en die dankbaarheid vir ’n gedeelde lewe.

Die musikant Tino Singe, wat na homself as die “donker Jonker” verwys het, het Houtkruis gesing. Die OPSA-koor, van Ostrich Products SA, het die diens met O Heer, my God afgesluit.

Jonker se seuns en kleinkinders het die geleentheid gekry om huldeblyke te bring en staaltjies oor hul pa en oupa te vertel. Tussen die hartseer deur was daar ook oomblikke van lag — erkenning van sy geaardheid, sy hardkoppigheid en die kosbare oomblikke wat nou deel van die familie se herinneringe bly.

“Ons kyk vir ons mense, maar word omring deur liefde, al het pa ’n baie sterk wil gehad, is ons lief vir hom,” het Morné Jonker gesê.

In dié woorde was daar liefde vir ’n pa én die versekering dat sy mense steeds na mekaar sal omsien. Hazel is tydens die diens vereer vir haar onbaatsugtige liefde, omgee en ondersteuning aan haar man deur die jare.

Haar liefde vir haar kinders en die gemeenskap het ook besondere erkenning gekry. Die groot opkoms was ’n sigbare teken van hoeveel mense vir haar en die hele gesin omgee.

“Pa was lief vir water. Ons as familie het soveel vrede. Hy het sy lewe toegewy aan die watertjie van die Klein Karoo, en dit is so paslik dat hy in hierdie grootste vloedjaar in 100 jaar deur dieselfde water geneem is,” vertel Morné Jonker. Die familie het troos gevind in die gedagte dat sy laaste oomblikke van rus in die water was.

“Ons weet sy siel rus vir ewig in die water waarvoor hy so lief was, wat hy bestuur het en ook damme gebou het.”

Die mense wat Maandag saamgekom het, het ’n man ont-hou wat hulle met kosbare herinneringe gelaat het. Sy familie se vertellings het hom vir ’n wyle weer naby gebring: in ’n staaltjie, ’n glimlag en die lag wat selfs op ’n hartseerdag kon deurbreek.

Ook buite die kerk het duisende in die afskeid gedeel. Teen druktyd het die regstreekse uitsen-dings van die lewensviering op YouTube en Facebook saam meer as 36 000 kyke aangeteken.

Die vol kerk en die mense wat van elders ingeskakel het, het dieselfde boodskap gedra: die Jonker-gesin staan nie alleen in hul verlies nie. Die gemeenskap vir wie hulle oor die jare soveel omgegee het, het nou met liefde rondom húlle kom staan.

Die Jonker-familie bedank die gemeenskap hartlik vir hul omgee en ondersteuning, en vir elke boodskap wat hulle in hierdie moeilike tyd ontvang het.

Hulle spreek ook hul opregte dank uit teenoor almal wat by die soektog betrokke was, asook elkeen wat met die reëlings vir die lewensviering gehelp het. Die liefde en bystand beteken vir die familie baie.

Jonker is oorlede nadat sy Land Cruiser Sondag 27 September, kort voor 13:00, in die sterk stroom by ’n laagwaterbrug oor die Olifantsrivier net buite Oudtshoorn beland het. Sy voertuig en liggaam is Dinsdag 29 September ná ’n drie dae lange soektog gevind. (ANGELIQUE ERASMUS)

Die Jonker-familie bedank ook:

  • Mornay Thysse
  • De Villiers Viljoen
  • Gideon de Villiers
  • Abri Ferreira
  • SAPD-duikers
  • Almal wat kos, koeldrank en koffie vir almal gebring het.
  • Dryland Event Management
  • Nation Events
  • Ds. Andries Potgieter
  • Koster van NG Kerk Park
  • Tino Singe
  • Spysenieringsmaatskappye
  • Die Klein Karoo gemeenskap

Be the first to comment on "Trane, glimlagte en ’n kerk vol liefde vir Saag"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*