Eerste Hemelruim wink

Spoegwolf is Saterdag 10 Oktober te sien by Hemelruim, wat vir die eerste keer op Oudtshoorn aangebied word. Onder: Noemwoord. Foto's verskaf

Oudtshoorn se eerste Hemelruim-opelugkonsert vind Saterdag, 10 Oktober, by Surval Boutique Olive Estate plaas, met Spoegwolf, Tasché en die plaaslike groep Noemwoord op die verhoog.

Dié geleentheid, wat deur die KKNK aangebied word, word as die Klein Karoo se eerste “woestyn-disko” beskryf.
Hekke open om 17:00 en die musiek begin om 18:00.

Spoegwolf se hoofsanger, Danie Reënwolf, sê die groep sien daarna uit om weer op Oudtshoorn op te tree.

“Die sterrenag in Oudtshoorn is net iets anders. Ons kan nie wag om al ons grootste songs, grootste kuier en grootste klank na Oudtshoorn te bring nie.”

Spoegwolf se Afrikaanse rockklank word aangevul deur Tasché se kenmerkende stem en kontemporêre musiek, terwyl Oudtshoorn se eie Noemwoord plaaslike talent na die verhoog bring.

Met die Swartberge as agtergrond bied Surval die ruimte vir ’n aand van musiek onder die Klein Karoo se sterre.
Shanel Lambrechts, Surval se algemene bestuurder, sê hulle is gereed om die kunstenaars en konsertgangers te verwelkom.

“Die verhoog is gereed, die sterre skyn helder hier by ons én die musiek wag om die aand met besonderse klanke te vul,” sê sy.

Die konsert volg op ’n bedrywige oggend waartydens drawwers aan die Optimum Meiringspoort-halfmaraton op De Rust deelneem. Besoekers kan dus die dag met ’n wedloop begin en met musiek, sang en dans afsluit.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Checkers-, Shoprite- en Usave-winkels, asook die KKNK-kantoor op Oudtshoorn.

Kaartjies sal ook by die konsertterrein verkoop word, onderhewig aan beskikbaarheid. Eetgoed en kroegfasiliteite sal beskikbaar wees.

Vir meer inligting besoek hemelruim.co.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Be the first to comment on "Eerste Hemelruim wink"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*