Solidariteit Helpende Hand het Donderdag, 1 Oktober, inwoners, boere en sakelui by die Koöperasiesaal in Oudtshoorn byeengebring vir ’n funksie waar onder meer Suid-Afrika se maatskaplike beleid en die toestand van die regstelsel onder die loep gekom het.
Die gassprekers was Hannes Noëth van Solidariteit Helpende Hand en adv. Gerrie Nel van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.
Noëth het sterk klem gelê op wat hy as ’n verkeerde maatskaplike benadering deur die staat beskryf. Volgens hom fokus die huidige stelsel te veel op versorging en te min op bemagtiging, met die gevolg dat afhanklikheid eerder as self-standigheid geskep word.
Hy het gesê die doel van maatskaplike onder-steuning behoort te wees om mense toe te rus om uit armoede en werkloosheid te ontsnap, tot die arbeidsmark toe te tree en uiteindelik vir hulself ’n volhoubare inkomste te verdien.
Volgens Noëth is die huidige benadering op die lange duur onvolhoubaar en hou dit gevolge vir die hele land in.
Hy het aangevoer dat miljoene Suid-Afrikaners reeds direk van die staat afhanklik is en gewaarsku dat ’n groeiende maatskaplike las uiteindelik deur belasting en ander staatsinkomste gefinansier moet word.
Hy het ook verwys na die voortsetting van die Social Relief of Distress-toelae, wat aanvanklik tydens die Covid-19-pandemie ingestel is, en gesê die moontlikheid dat dié ondersteuning op ’n langer termyn deel van die maatskaplike stelsel kan word, plaas verdere druk op staatsfinansies.
Daarteenoor het Noëth Helpende Hand se eie benadering uitgelig, waar ondersteuning volgens hom toenemend aan opleiding, opvoeding en langtermyn-selfstandigheid gekoppel word.
Duisende kinders word deur voedingsprojekte ondersteun, onder meer binne skoolverband, maar volgens Noëth lê die organisasie se groter fokus daarop om mense met opleiding en kwalifikasies toe te rus.
Hy het gesê Helpende Hand het gedurende 2026 sowat R75 miljoen aan studiebeurse vir meer as 1 000 studente beskikbaar gestel.
Die geld word grootliks deur Ons Winkels en ander skenkings gegenereer.
Noëth het aangevoer dat geld wat slegs as ’n toelae uitbetaal word uiteindelik opgebruik word, terwyl geld wat in opleiding belê word, iemand die geleentheid kan gee om oor baie jare ’n inkomste te verdien.
“As jy enigiets met ’n R1 kan doen, belê dit in iemand se opvoeding,” was sy boodskap.
Regstelsel onder die vergrootglas
Nel het in sy toespraak op die Suid-Afrikaanse strafregstelsel en die vermoë van die staat om sake suksesvol te ondersoek en te vervolg gefokus.
Volgens hom het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedurende die Zuma-era, veral omstreeks 2017, ernstige skade gely waarvan die instelling steeds probeer herstel.
Hy het ook die toenemende gebruik van kommissies van ondersoek bevraagteken en aangevoer dat dit deels ’n aanduiding is van
’n strafregstelsel wat nie altyd daarin slaag om ernstige bewerings deur die gewone ondersoek- en vervolgingspro-sesse af te handel nie.
Nel het na die Madlanga-kommissie verwys en gesê verskeie kommissies van ondersoek het oor die jare omvangryke inligting aan die lig gebring, maar dat dit volgens hom te selde tot suksesvolle vervolgings gelei het.
Hy het gewaarsku dat openbare tevredenheid nie bloot moet eindig wanneer inligting onthul of ’n verdagte op dramatiese wyse in hegtenis geneem word nie.
Volgens Nel is die belangrikste maatstaf uiteindelik of ’n deeglik ondersoekte saak voor die hof gebring en suksesvol vervolg word.
Hy het gesê sommige opspraakwekkende arrestasies haal groot nuus, maar sake word later teruggetrek, verval of bereik nooit die stadium van ’n behoorlike verhoor nie.
“Die fokus moet nie bloot op blootstelling en sensasionele arrestasies wees nie, maar op suksesvolle vervolging,” was die kern van sy boodskap.
Nel het verduidelik dat dit een van die redes was waarom AfriForum hom in 2017 genader het om ’n privaatvervolgingseenheid te help vestig.
Volgens hom kom tot 90% van die eenheid se versoeke om hulp van mense wat nie AfriForum-lede is nie of uit ander kultuurgroepe kom.
Hy het tydens sy toespraak na verskeie sake verwys waarin die staat aanvanklik nie wou vervolg nie, maar waar AfriForum se betrokkenheid volgens hom uiteindelik daartoe bygedra het dat verdere regstappe gevolg is.
Nel het voorspel dat private betrokkenheid by vervolging in die toekoms waarskynlik verder sal uitbrei, soortgelyk aan die groeiende rol wat private instellings reeds op gebiede soos mediese sorg en onderwys speel.
Die funksie het inwoners die geleentheid gebied om twee uiteenlopende, maar verwante uitdagings te bespreek: hoe gemeenskappe mense meer selfstandig kan maak, en hoe groter aanspreeklikheid binne die strafregstelsel verseker kan word.
Helpende Hand lig maatskaplike en regsuitdagings uit
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, aan die woord tydens Solidariteit Helpende Hand se funksie in die Koöperasiesaal op Donderdag, 1 Oktober.
Foto verskaf.
Be the first to comment on "Helpende Hand lig maatskaplike en regsuitdagings uit"