Hommeltuie in Oudtshoorn se lug? Munisipaliteit verduidelik

Inwoners van Groter Oudtshoorn kan vanaf Maandag, 12 Oktober, munisipale veldwerkers in hul woonbuurte verwag wanneer die proses begin om inligting vir die nuwe algemene eiendomswaardasierol in te samel.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het aangekondig dat voorbereidings vir die Algemene Waardasierol van 2027 reeds begin het. Die nuwe waardasierol word ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Eiendomsbelasting, 2004 (Wet 6 van 2004), saamgestel en sal na verwagting op 1 Julie 2027 in werking tree.

As deel van die proses sal professionele, gesertifiseerde hommeltuigoperateurs lugfoto’s van residensiële, kommersiële en landbou-eiendomme neem. Dié foto’s sal gebruik word om onder meer die grootte van persele en die strukture daarop te bepaal.

Geregistreerde veldwerkers sal ook deur woonbuurte beweeg om foto’s vanaf straatvlak te neem, eiendomsbesonderhede na te gaan en, waar nodig, toegang tot persele te versoek om geboue of verbeterings te bevestig.

Volgens die munisipaliteit is die doel om te verseker dat eiendomme billik en akkuraat volgens hul huidige toestand gewaardeer word.

Hoe weet jy of ‘n veldwerker eg is?

Die munisipaliteit beklemtoon dat inwoners op hul veiligheid moet let en die identiteit van veldwerkers mag bevestig voordat hulle toegang tot hul eiendom verleen.

Alle amptelike veldwerkers moet duidelik sigbare veiligheidsbaadjies dra en oor ‘n amptelike munisipale identiteitskaart beskik waarop hul naam, foto en werknemer- of kontrakteurnommer verskyn.

Inwoners het die reg om hierdie identiteitsbewys aan te vra en te ondersoek voordat hulle enige vrae beantwoord of toegang tot hul perseel verleen.

Veldwerkers sal onder geen omstandighede kontant, betalings of bankbesonderhede versoek nie.

Die munisipaliteit het ook die name en foto’s van ses veldwerkers bekend gemaak om inwoners te help om hulle te identifiseer.

Inwoners wat onseker is oor ‘n veldwerker se identiteit, kan CDV MunVal by 060 870 5005 kontak. Navrae kan ook aan Annelize Samson by 044 203 3058 of annelize@oudtmun.gov.za gerig word.

Nog nie tyd vir besware nie

Die munisipaliteit verduidelik dat hierdie stadium uitsluitlik vir die insameling en bevestiging van eiendomsinligting bedoel is.

Die nuwe waardasierol is dus nog nie vir openbare insae of besware beskikbaar nie.

Sodra die inligting ingesamel en bevestig is, sal die munisipaliteit na verwagting vroeg in 2027 ‘n formele kennisgewing uitreik waarin uiteengesit word wanneer en waar die konsepwaardasierol besigtig kan word en hoe inwoners besware kan indien.

Die munisipaliteit doen ‘n beroep op inwoners om met die veldwerkers saam te werk sodat ‘n akkurate en billike waardasierol vir Groter Oudtshoorn saamgestel kan word.

Be the first to comment on "Hommeltuie in Oudtshoorn se lug? Munisipaliteit verduidelik"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*