Met die reën en klammer toestande van die afgelope tyd, saam met warmer weer, kan toestande gunstiger raak vir verskeie klein vliegsoorte om te vermeerder. Verskeie inwoners van Oudtshoorn kla tans oor muggies wat skynbaar oral opduik – van kombuise en badkamers tot by ’n glas wyn op die tafel.
Vlieë en muggies vermeerder maklik waar warmte, vog en organiese materiaal saam voorkom. Onder gunstige toestande gedurende die warmer maande kan die lewensiklus van sekere vliegsoorte binne sowat 10 tot 21 dae voltooi word. Dit beteken dat hul getalle vinnig kan toeneem wanneer geskikte broeiplekke beskikbaar is.
Vog op sigself veroorsaak nie noodwendig ’n muggieprobleem nie, maar wanneer dit gekombineer word met organiese materiaal soos nat gras, verrottende vrugte, kompos, mis of klam potgrond, kan dit geskikte plekke skep waarin eiers, larwes en papies ontwikkel.
Hoewel mense gewoonlik sommer van “muggies” praat, kan verskillende klein vliegsoorte betrokke wees. Die klein vliegies wat rondom ryp vrugte, wyn, bier, koeldrank en kombuisafval voorkom, is dikwels vrugte- of asynvliegies.
Dié vliegies word aangetrek deur fermenterende organiese materiaal en kan selfs in baie klein hoeveelhede kos of vloeistof broei. Oorryp vrugte, oop wyn- of bierbottels, leë koeldrankhouers en klam afval kan alles geskikte broeiplekke bied.
Die beste manier om van hulle ontslae te raak, is daarom nie bloot om die vliegies wat reeds rondvlieg dood te maak nie, maar om hul broeiplekke te vind en te verwyder. Beheer is selde doeltreffend wanneer slegs die volwasse vlieë geteiken word, aangesien eiers, larwes en papies steeds in die broeiplek kan ontwikkel.
Wanneer muggies reeds ’n probleem is, kan dit help om ryp vrugte vir ’n tyd lank in die yskas te hou en so hul toegang tot ’n moontlike voedsel- en broeibron af te sny. Gooi beskadigde of verrottende vrugte weg.
Maak vullisdromme gereeld leeg en sorg dat deksels behoorlik sluit. Moenie net die sak vervang nie – kyk ook na die bodem en kante van die drom. ’n Klein hoeveelheid gemorste sap of kosreste kan genoeg wees om vliegies te lok. Leë wyn-, bier- en koeldrankbottels en blikkies is nóg ’n plek wat maklik misgekyk word.
Selfs ’n klein hoeveelheid vloeistof wat onderin agterbly, kan vliegies lok. Spoel houers uit voordat dit gestoor of vir herwinning eenkant gesit word.
Gee ook aandag aan wasbakke en dreine. Sommige klein vliegies plant voort in organiese materiaal wat aan die binnekant van dreine opbou.
Indien vliegies voortdurend rondom ’n wasbak voorkom, behoort die drein deeglik skoongemaak en, waar moontlik, geskrop te word. Om bloot water of ’n skoonmaakmiddel daarin te gooi, verwyder nie noodwendig al die organiese materiaal waarin larwes kan ontwikkel nie.
Kyk ook na lekkende krane en pype en plekke waar water ná reën bly staan. Goeie dreinering en die beperking van onnodige vog kan help om moontlike broeiplekke te verminder.
’n Eenvoudige tuisgemaakte lokval kan help om volwasse vrugte- of asynvliegies wat reeds in die huis is, te verminder. Gooi ’n klein hoeveelheid appelasyn of wyn in ’n houer en voeg ’n druppel skottelgoedseep by. Die fermenterende reuk lok die vliegies, terwyl die seep die oppervlakspanning van die vloeistof breek sodat hulle daarin sink.
Dit is egter belangrik om te onthou dat ’n lokval alleen nie die probleem sal oplos indien daar steeds ’n broeiplek in of rondom die huis is nie.
Nie alle klein muggies kom van kos nie. Klein donker muggies wat hoofsaaklik rondom potplante voorkom, kan sogenaamde fungus gnats wees. Hulle ontwikkel graag in klam potgrond.
Laat die grond, waar moontlik, tussen natmaakbeurte effens uitdroog en verwyder dooie blare en ander verrottende plantmateriaal. Oorwatering kan die klam toestande skep waarin dié muggies floreer.
Nie alle muggies is dieselfde nie: Daar is ook muggiesoorte wat hoofsaaklik buite voorkom en mense en diere kan byt. Bytende muggies van die Culicoides-groep is klein bloedsuiende insekte wat veral gedurende warmer maande aktief is. Die wyfies voed op die bloed van onder meer perde, beeste en skape, dikwels teen skemer en in die aand.
Hul byte kan erge irritasie veroorsaak en by sommige diere tot velreaksies lei, veral rondom die oë en ore. Wanneer muggies in groot getalle voorkom, kan die voortdurende irritasie diere ook onrustig maak en hul normale voeding en gedrag ontwrig. Bytende muggies is egter meer as net ’n oorlas. Sekere spesies kan virusse tussen diere oordra. Hulle speel onder meer ’n rol in die verspreiding van bloutong by skape en Afrika-perdesiekte by perde.
Daar is ook ander tipes, waaronder dagbytende muggies, sandmuggies en riviermuggies of swartvlieë. Sommige broei in seisoenale water of ander nat gebiede, terwyl riviermuggies se onvolwasse stadiums in vloeiende water ontwikkel.
Groot getalle riviermuggies kan veral vee ernstig versteur omdat die wyfies bloed suig en herhaaldelik byt.
Wanneer vlieë vee begin pla: Vlieë kan ook ’n groter uitwerking op vee hê as wat ’n mens dalk besef. Diere wat voortdurend deur vlieë gepla en gebyt word, bestee minder tyd aan rustig wei en vreet. Dit kan tot ’n laer voerinname, gewigsverlies en selfs verminderde melkproduksie lei.
Sommige vlieë voed rondom diere se oë, neus en bek en kan bakterieë tussen diere versprei. Gesigvlieë word byvoorbeeld verbind met die verspreiding van bakterieë wat tot ooginfeksies by beeste en skape kan bydra.
Die voortdurende byt van bloedsuiende vlieë kan ook pyn, irritasie en in ernstige gevalle bloedverlies veroorsaak.
Vir vee-eienaars is voorkoming daarom belangrik. Beheer behoort nie net op die volwasse vlieë te fokus nie, maar ook op hul broeiplekke. Mis-hope, nat voerreste, gebiede rondom voerkrippe en verrottende of klam hooi is almal plekke wat dopgehou en gereeld skoongemaak moet word.
Waar bytende muggies ’n probleem is, kan vee-eienaars ook met hul veearts gesels oor toepaslike beskermingsmaatreëls en die nodige inentings teen siektes wat deur insekte oorgedra kan word.
En wat van steekvlieë? Die Hoorn het die afgelope tyd ook van lesers gehoor wat kla oor steekvlieë. Hoewel dit nie op dieselfde skaal as die muggies blyk te wees nie, kan dié vlieë ’n besonder onaangename oorlas wees omdat hulle mense en diere kan byt.
Steekvlieë verskil van die klein vrugte- en asynvliegies wat in kombuise voorkom. Stal-, horing- en perdevlieë is voorbeelde van bytende vlieë. Hulle voed op bloed en herhaalde byte kan pyn en irritasie veroorsaak.
Die nat toestande van die afgelope tyd kan ook hier ’n rol speel. Vlieë benodig dikwels klam organiese materiaal vir hul onvolwasse stadiums. Mis, voerreste, klam hooi en ander verrottende plantmateriaal kan geskikte broeiplekke vorm.
Dit beteken dat inwoners met vliegprobleme veral ook buite die huis moet kyk. Na reën is dit ’n goeie idee om plekke waar water en organiese materiaal saam ophoop na te gaan. Verwyder nat grassnysels, laat hooi en strooi droog bly, ruim diere-afval gereeld op en voorkom dat klam organiese materiaal vir lang tye in hope lê.
Waar diere aangehou word, is gereelde skoonmaak van hokke, stalle en voerareas belangrik. Goeie dreinering, die beperking van lekkende water en die gereelde verwydering van voerreste en ander organiese materiaal kan help om broeiplekke te verminder.
Gaas voor vensters en deure kan help om vlieë uit die huis te hou. Waar chemiese vliegbeheer gebruik word, behoort produkte altyd volgens die etiket en vir die spesifieke toepassing gebruik te word, veral wanneer dit rondom troeteldiere of ander diere gebruik word.
Verwyder verrottende vrugte wat onder vrugtebome lê, hou kompos netjies en verwyder diere-afval gereeld. Na reën is dit veral belangrik om nat grassnysels, blare en ander plantmateriaal wat in hope saamgepak het, op te ruim of behoorlik te laat droog word.
Troeteldierkos wat lank buite staan, asook kosreste in troeteldierbakke, behoort gereeld verwyder en die bakke skoongemaak te word.
Die kern van goeie beheer is dus nie net om die muggies en vlieë wat rondvlieg te probeer doodmaak nie. Soek eerder na die warm, klam en organiese omgewing waarin hulle kan broei. Deur dié plekke uit te skakel, goeie dreinering te verseker en afval gereeld te verwyder, word die lewensiklus onderbreek en kan hul getalle mettertyd verminder.
Daardie lastige muggies: Waar kom hulle vandaan?
Foto: Istock.
Be the first to comment on "Daardie lastige muggies: Waar kom hulle vandaan?"