Die Love Oudtshoorn Festival het van 1 tot 4 Oktober 2026 die Bridgton-sportgronde in Oudtshoorn omskep in ’n feestelike bymekaarkomplek waar ’n groot skare saamgekom het om musiek, geloof en gemeenskap te vier.
Die gospel-fees het besoekers van Oudtshoorn en omliggende gebiede gelok. Jonk en oud het die geleentheid geniet, met ’n program wat daarop gemik was om die hele gesin te vermaak.
Een van die groot trekpleisters was die optredes op die hoofverhoog. Verskeie plaaslike kunstenaars het hul talente met die gehoor gedeel en vir ’n feestelike atmosfeer gesorg.
Die plaaslike kunstenaars het gewys dat Oudtshoorn oor ’n ryk poel musikale talent beskik.
Internasionale gassprekers het ook aan die fees deelgeneem en die verhoog met hul boodskappe en optredes gedeel. Hul teenwoordigheid het ’n besondere dimensie aan die fees verleen en besoekers die geleentheid gebied om na nuwe perspektiewe en inspirerende boodskappe te luister.
Kinders is nie vergeet nie en kon hul gate uit geniet in die spesiale speelarea wat vir hulle ingerig is. Die jongspan kon speel en pret hê terwyl ouers en ander feesgangers die program geniet het.
Die Love Oudtshoorn Festival het sodoende nie net vermaak gebied nie, maar ook mense uit verskillende ouderdomsgroepe en gemeenskappe bymekaargebring.
Die vier dae op die Bridgton-sportgronde was gevul met musiek, vrolikheid, geloof en ’n sterk gevoel van gemeenskap. (GRANWILLE GOLIATH)
Groot opkoms by ‘Love Oudtshoorn Festival’
Foto: Faith Walkers - Spiritual Intervention Facebook
Be the first to comment on "Groot opkoms by ‘Love Oudtshoorn Festival’"