
Drie dae van hoop, gebed en ’n onvermoeide soektog het Dinsdagmiddag, 29 September, tot ’n hartseer einde gekom toe Sagaria “Saag” Jonker (85) en sy bruin Toyota Land Cruiser in die Olifantsrivier gevind is.
Die voertuig is sowat 200 m stroomaf van die laagwaterbrug in die Rooiheuwel-omgewing gevind waar dit Sondagmiddag, 27 September, deur die sterk stroom meegesleur is.
Morné Jonker, Saag se seun, het Dinsdagmiddag telefonies aan Die Hoorn bevestig dat sy pa en die voertuig net na 15:00 gevind is.
Jonker was steeds in die voertuig.
Vir die Jonker-familie het die bevestiging ná drie dae van onsekerheid ten minste ’n einde gebring aan die pynlike vraag oor waar hul pa en oupa hom bevind.
“Hoewel ons harte diep bedroef is, ervaar ons ook ’n geweldige gevoel van dankbaarheid en vrede dat hy gevind is, dat ons hom nou huis toe kan bring en dat ons as familie behoorlik van hom kan afskeid neem,” het die familie Dinsdagaand in ’n verklaring gesê.
“Bo alles is ons dankbaar teenoor ons Skepper dat Oupa gevind is.”
Gewone Sondagoggend eindig in tragedie
Sondag het vir Jonker begin soos soveel ander dae oor baie jare.
Ten spyte van sy ouderdom was hy steeds aktief betrokke by die boerdery en het hy daardie oggend sy rondtes gedoen en plase geïnspekteer.
Omstreeks 12:50 was hy op pad terug na sy huis op Oudtshoorn toe hy die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier in die Rooiheuwel- distrik, sowat 3 km buite die dorp, probeer oorsteek het.
Die rivier was in vloed ná swaar reën in die opvangsgebied.
Die Stompdriftdam was dié dag ongeveer 107% vol en water het teen sowat 60 kubieke meter per sekonde gevloei.
Jonker se Land Cruiser is deur die sterk stroom van die brug af meegesleur. ’n Groot soektog is feitlik onmiddellik van stapel gestuur.
Polisie-duikers, nooddienste en lede van die gemeenskap het na die toneel gestroom, terwyl ’n AMS-helikopter die rivier uit die lug deursoek het. Hommeltuie is ook ingespan om dele van die rivier en oewer te ondersoek wat moeilik te voet bereikbaar was.
Die hoë watervlak, sterk stroom en feitlik geen sigbaarheid onder die water nie het die soektog egter geweldig bemoeilik.

Gemeenskap staan saam
Teen Maandag het die watervlak begin daal en kon polisieduikers hul soektog uitbrei.
Die plek waar die voertuig se opspoortoestel laas ’n sein uitgestuur het, is ondersoek, maar die Land Cruiser was nie daar nie.
Plaaslike inwoners het ook tot die soektog toegetree.
Kano’s en ’n visvinder is gebruik om dieper dele van die rivier te ondersoek waar duikers nie maklik kon werk nie, terwyl hommeltuie steeds die rivierloop en digte plantegroei uit die lug gefynkam het.
Teen Dinsdag, die derde dag van die soektog, is die operasie verder versterk.
Twaalf duikers, verdeel in twee spanne van ses, was betrokke. Lede van die SAPD en Oudtshoorn Brandweer het saam met ander soekspanne gewerk.
’n Boot en visvinder is gebruik om dieper gate te ondersoek, terwyl ankertoue op plekke gebruik is om onder die water na voorwerpe te soek.
Digte riete langs die rivier, modderige water, diep gate en ’n steeds sterk stroom het die taak gevaarlik en moeilik gemaak. Die Stompdriftdam was Dinsdag steeds 102,48% vol. Maar die soekspanne het aangehou.
Later Dinsdagmiddag het die deurbraak gekom: Jonker se Land Cruiser is ongeveer 200 m van die brug af in die rivier gevind.
Daarmee het ’n soektog geëindig wat die Oudtshoorn-gemeenskap vir drie dae saamgesnoer het.
In hul verklaring het die Jonker-familie die SAPD en polisieduikers, WPDS – Southern Cape, K9 Search & Rescue en almal wat met bote, hommeltuie, voertuie, toerusting en hande gehelp het, bedank.
Hulle het ook die boere, plaaswerkers, familie, vriende en gewone inwoners uitgesonder wat eenvoudig opgedaag en gehelp het.
“Dankie vir elke gebed. Dankie vir elke boodskap. Dankie vir elke oproep. Dankie vir die kos, hulp, ondersteuning en bemoediging,” lui die verklaring.
Die familie sê die omvang van die ondersteuning het hulle diep geraak en hulle in ’n tyd van groot hartseer weer laat besef wat dit beteken om deel te wees van ’n gemeenskap wat vir mekaar omgee.

’n Naam verweef met Oudtshoorn se volstruisbedryf
Saag Jonker se naam was vir dekades sinoniem met die Suid-Afrikaanse volstruisbedryf.
Sy verbintenis met die bedryf strek veel verder terug as die stigting van die onderneming wat later sy naam sou dra.
Reeds in 1958 is hy as vere-agent en -afslaer by die destydse Klein Karoo Koöperasie aangestel.
Volgens ’n profiel wat gepubliseer is toe hy in 2000 as Suid-Afrika se Boer van die Jaar aangewys is, het Jonker in 1974 sy eerste klein stukkie grond met die uitbetaling van sy pensioenfonds gekoop. Met die hulp van sy swaer het hy ’n projek begin om volstruiskuikens groot te maak.
Uit dié nederige begin het ’n merkwaardige landbou- en sakeonderneming gegroei.
Die Saag Jonker Groep dateer volgens Ostrich Products South Africa (OPSA) uit 1976 en het oor die daaropvolgende dekades uitgebrei tot wat OPSA vandag beskryf as die wêreld se grootste privaat besitte, vertikaal geïntegreerde onderneming vir volstruisboerdery, verwerking en bemarking.
Die groep is op Oudtshoorn gesetel en sy produkte, veral volstruisleer en -vere, het ’n internasionale mark bereik.
Teen 2000 het die omvang van die boerdery reeds gewys hoe ver Jonker van daardie eerste klein stukkie grond gevorder het.
Volgens ’n destydse verslag het die groep toe belange in 41 plase in die Klein Karoo, Groot Karoo en Langkloof gehad en ’n beduidende deel van Suid-Afrika se volstruisproduksie gelewer.
Daardie jaar is Jonker deur die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika as Boer van die Jaar aangewys – ’n toekenning wat hom onder ’n klein groep van die land se voorste landbouers geplaas het. Die Landbouskrywersvereniging se eie lys van wenners bevestig Jonker as die nasionale wenner vir 2000.
Sy invloed het egter nie net by produksiesyfers, plase en uitvoermarkte geëindig nie.
OPSA beskryf die groep se betrokkenheid by die maatskaplike ontwikkeling van werknemers en hul gesinne as ’n belangrike deel van die onderneming se geskiedenis.
Oor die jare is onder meer in behuising, sanitasie, kindersorg en ontspanningsgeriewe vir werknemers belê. Selfs op 85 het Jonker nie heeltemal van die plaaslewe afstand gedoen nie. Dit was juis ná een van sy gewone rondtes op die plase dat hy Sondagmiddag op pad huis toe was.
“Die plek wat hy in ons lewens gehad het, kan nooit gevul word nie”
Vir Suid-Afrika se landboubedryf laat Jonker ’n naam en onderneming na wat oor dekades opgebou is. Vir Oudtshoorn verloor die dorp een van sy bekendste landboufigure. Maar vir sy familie was hy in die eerste plek Pa en Oupa.
“Ons pa en oupa was vir ons ’n buitengewone mens, en die plek wat hy in ons familie en in ons lewens gehad het, kan nooit gevul word nie,” het die familie gesê.
Hulle sou, sê hulle, enigiets gee om hom veilig terug by die huis te hê. “Maar ons is dankbaar dat die onsekerheid verby is, dat ons weet waar hy is en dat ons nou met liefde en waardigheid van hom kan afskeid neem.”
Ná drie dae waarin ’n dorp saam gesoek, gehoop en gebid het, het die Jonker-familie hul verklaring met eenvoudige woorde afgesluit: “Nou begin ons tyd om te rou, te onthou en afskeid te neem.
“Aan elke persoon wat saam met ons gesoek, gehoop, gebid en gehuil het: Dankie. Ons sal dit nooit vergeet nie.”
Saag Jonker se begrafnisdiens vind Maandag, 5 Oktober, om 10:00 by die NG Kerk Oudtshoorn Park in Buitekantstraat plaas. (ANGELIQUE ERASMUS)
