Werner Jonathan se lewe het reeds op ’n jong ouderdom ’n moeilike draai geneem. Vandag, ná jare van dwelmgebruik, misdaad en ’n tydperk in die tronk, vertel hy ’n heel ander verhaal — een van geloof, herstel en diens aan ander.
Jonathan was drie jaar oud toe sy ouers geskei het. Sy ma het volgens hom daarna swaar begin drink en kon later nie meer behoorlik na hom omsien nie. Sy tannie, sy ma se suster, en haar man het hom toe ingeneem en soos hul eie kind grootgemaak.
“Hulle het my baie goed grootgemaak en vir my alles gegee wat hulle kon,” vertel hy.
Maar op 12-jarige ouderdom het sy lewe begin verander. Hy het eers dagga begin rook en later Mandrax, ook bekend as “buttons”, gebruik. Dit het mettertyd tot ander dwelms gelei, waaronder tik. Hy het skool begin bank en later begin steel om sy dwelmgebruik te onderhou.
Hy vertel van nagte wat hy op straat deurgebring het, van diefstal en inbrake by huise en motors. Vir baie jare was hy, soos hy dit self beskryf, “vasgevang in drugs”.
Die verslawing het ook sy verhouding met sy familie ingrypend geraak. Jonathan beskryf homself in daardie tyd as vuil, stukkend en onbeskof. Daar was selfs tye dat hy nie saam met sy familie aan tafel kon sit nie. Uiteindelik het hy ’n punt bereik waar hy gevoel het niemand in sy familie gee meer vir hom om nie.
“Ek was besig om myself te verloor.”
Ook sy verhouding met sy seun het daaronder gely. Jonathan vertel hy kon destyds nie behoorlik na hom omsien nie en was dikwels te skaam om hom te gaan sien, omdat hy gevoel het hy het niks gehad om vir hom te gee nie.
Dit was egter juis in dié donker tyd dat iets begin verander het.
“Toe mense my afgeskryf het, het die Here my opgeskryf.”
’n Vriendin wat in dieselfde straat gewoon het, het ’n belangrike rol in dié verandering gespeel. Sy het haar deur vir hom oopgemaak, hom kos gegee wanneer hy honger was en met hom oor geloof begin praat. Sy het hom kerk toe genooi, hom geleer bid en hom aangemoedig om sy lewe te verander.
In 2015 het Jonathan in die tronk beland. Hoewel hy nie lank daar was nie, het dié tyd volgens hom ’n belangrike keerpunt geword. Hy het begin bid en ’n belofte aan God gemaak: “Here, as U vir my die deure oopmaak, sal ek uitgaan en U daar buite dien.”
Hy is later vrygelaat, maar sy stryd was nog nie verby nie. Jonathan erken dat hy teruggeval en weer tik begin gebruik het. Hy het, soos hy dit stel, vergeet van die belofte wat hy in die tronk gemaak het.
Daardie belofte het hom egter nie gelos nie. Hy het weer begin kerk toe gaan en uiteindelik tot die punt gekom waar hy sy lewe wou verander. Jonathan het nie ’n rehabilitasieprogram gevolg nie en skryf sy herstel aan sy geloof toe. “Ek was nie in ’n rehab nie. Die Here het my verlos.”
Vandag sê hy dat hy reeds tien jaar skoon is.
Die vrou wat destyds haar deur vir hom oopgemaak en hom deur een van die donkerste tye van sy lewe ondersteun het, het later sy vrou geword. Hulle is nou sewe jaar getroud.
Ook dit wat dwelmgebruik in sy familieverhoudings beskadig het, kon volgens Jonathan met verloop van tyd herstel. Sy seun is vandag 18 jaar oud en hulle het ’n sterk band.
“Met die hulp van die Here kon ek en my seun se verhouding herstel,” vertel hy.
Sy verhouding met die res van sy familie is ook baie beter as voorheen. Vir Jonathan is een van die grootste verskille dat sy familie vandag weer op hom kan staatmaak.
Dié verandering is ook sigbaar in sy werkslewe. Hy werk reeds vyf jaar as algemene werker by JW Seeds en sê dit beteken baie vir hom dat hy vandag vir sy gesin kan sorg.
Waar Jonathan eens gevoel het dat sy eie lewe besig was om uitmekaar te val, speel hy vandag ’n aktiewe rol in die lewens van ander. Hy is ’n leier in sy kerk, waar hy die Woord verkondig, en is ook by verskeie gemeenskapsuitreike betrokke.
Hy neem aan opelugdienste deel, help om kos aan minderbevoorregte kinders uit te deel en werk saam met ander groepe wat uitreike in die gemeenskap doen. Op dié manier leef hy vandag, sê hy, die belofte uit wat hy jare gelede in die tronk gemaak het.
“As die Here dit in my lewe kon doen, glo ek Hy kan dit ook in iemand anders se lewe doen.”
Sy droom vir die toekoms sluit nou aan by die pad wat hy self gestap het. Jonathan hoop om eendag deel van ’n rehabilitasiesentrum te wees waar hy mense wat met dwelmverslawing worstel, kan ondersteun en uit sy eie ervaring kan help.
Jesaja 61:1 is volgens hom die Skrifgedeelte waarmee die Here hom geroep het. ’n Gedeelte wat vir hom spreek van hoop, vryheid en herstel vir mense wat gebroke is.
Die man wat eens gevoel het dat niemand meer op hom kon staatmaak nie, is vandag ’n pa, eggenoot, werknemer en kerkleier op wie ander kan steun. En waar verslawing eens ’n groot deel van sy lewe bepaal het, hoop Jonathan nou dat sy eie verhaal iemand anders sal laat glo dat niemand buite die Here se bereik vir verandering en herstel is nie. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Kingdom News: Afgeskryf deur mense, opgeskryf deur God"