Teksmark gee sewe nuwe stories ’n verhoog

Foto: Nardus Engelbrecht

Sewe nuwe Suid-Afrikaanse teks-idees word op Woensdag 21 Oktober tydens die derde Teksmark Joburg by die Universiteit van Johannesburg se Keorapetse William Kgositsile-teater aangebied.

Dié projek van die KKNK en NATi verbind skrywers met teaters, feeste en ander rolspelers wat hul werk moontlik verder kan ontwikkel. Skrywers stel hul idees bekend, waarna kort uittreksels as leesteater opgevoer word.

Vanjaar se program sluit tekste deur Nico Taljaard, Madinny Lebeko, Obett Motaung, Loraine Wheeler, Imaan Latif, Mosa Rabannye en Luan Jacobs in.

Kabaret, satire en komedie kry ook besondere aandag. Veteraan-regisseur Marthinus Basson bied ’n inleiding tot kabaret aan, met nuwe idees en sketse deur vier deelnemers.

Sedert Teksmark se ontstaan is meer as 200 teksidees deur meer as 180 skrywers voorgelê. Meer as 50 tekste het reeds tot volskaalse produksies ontwikkel.

Bywoning is gratis en sitplekke kan vooraf by Quicket bespreek word.

Die tweede Teksmark: Oudtshoorn vind op 6 en 7 November in die Klein Karoo plaas. Besonderhede oor die program en bywoning word binnekort bekendgemaak.

Vir meer inligting besoek kknk.co.za of skakel 044 203 8600.

Be the first to comment on "Teksmark gee sewe nuwe stories ’n verhoog"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*