Harde werk is goud werd

Bo: Drieske Marais het op 26 September tydens die Cape Classic Pro-Am show, in Kaapstad die titel as die algehele vrouewenner opgeraap. Onder: Bo: Drieske in aksie. Foto's: Michael Maciej

Twee eerste plekke, die titel as algehele vrouewenner en ’n uitnodiging na Atlantic City. Dít is waarmee Drieske Marais op 26 September van die verhoog afgestap het tydens die Cape Classic Pro-Am, aangebied deur IBFF Worldwide in Kaapstad — net ’n maand nadat sy haar eerste kompetisie van die jaar met ’n tweede plek afgesluit het.

Die uitnodiging bied haar die geleentheid om Suid-Afrika van 4 tot 6 Desember 2026 by ’n WBFF-kompetisie in Atlantic City in die VSA te verteenwoordig.

Hoewel Marais nie die geleentheid gaan bywoon nie, is die uitnodiging ’n besondere erkenning van haar harde werk en prestasie.

Sy het die Wellness- én Fit Model-kategorieë gewen en is ook as die Women’s Overall-wenner aangewys. Vir haar was dié uitslae die beloning vir ’n tydperk waarin sy haar voorbereiding aangepas, met ’n nuwe afrigter begin werk en met hernude vasberadenheid na die verhoog teruggekeer het.

Die grondslag vir haar jongste sukses is reeds op 26 Augustus gelê. Hoewel sy by daardie kompetisie tweede geëindig het, het sy die uitslag as ’n aansporing beskou om verder te verbeter.

“Ek het nie daardie tweede plek as ’n nederlaag gesien nie. Ek het dit gebruik as brandstof om harder te werk, slimmer te prep en sterker as ooit terug te kom,” vertel sy.

In die maand tussen die twee kompetisies het Marais haar voorbereiding saam met haar nuwe afrigter, Warren, bekend as “The Mad Scientist”, aangepak. Met ’n nuwe plan en strategie het sy op haar volgende verskyning gefokus.

Die verandering het vir haar ’n merkbare verskil gemaak. Toe sy op 26 September weer op die verhoog staan, het sy nie net haar vorige posisie verbeter nie, maar met oorwinnings in twee kategorieë en die algehele vrouetitel weggestap.

“Net vier weke. ’n Nuwe plan. ’n Nuwe strategie. ’n Nuwe vlak,” beskryf sy dié tydperk.

Die uitnodiging na Atlantic City het haar sukses verder afgerond en ’n moontlike volgende geleent-heid op die internasionale verhoog gebring. Vir nou is haar aandag egter op tyd saam met haar familie en geliefdes, voordat sy verder aan haar doelwitte vir die volgende seisoen werk.

Marais sê die ervaring tussen Augustus en September het haar opnuut die waarde van die regte leiding en ondersteuning laat besef. Vir haar het dit ook gewys dat ’n vorige uitslag nie hoef te bepaal wat by die volgende kompetisie moontlik is nie.

“Hierdie reis het my weer gewys dat jy soms nie meer tyd nodig het nie — jy het die regte plan, die regte persoon langs jou en geloof in die proses nodig.”

Haar tweede plek het dus deel van haar pad na die jongste oorwinning geword. Sy het dit gebruik om haar benadering te hersien en met ’n duidelike doel na haar volgende kompetisie toe te werk.

Ná die suksesvolle September-verskyning is Marais voorlopig klaar met kompetisiedeelname. Sy wil nou ruimte maak om tyd deur te bring saam met die mense na aan haar.

“Vir nou is ek eers klaar en vat af om tyd met familie en almal deur te bring,” sê sy.

Dié blaaskans beteken egter nie dat haar oefenwerk tot stilstand kom nie. Haar fokus verskuif nou van voorbereiding vir ’n onmiddellike verhoogverskyning na ontwikkeling gedurende die tyd buite die kompetisieseisoen.

Sy wil dié tyd gebruik om verder te groei en ’n sterker grondslag vir die 2027-seisoen te bou. Die doel is dus anders, maar haar strewe om te verbeter duur voort.

“Die werk stop nie hier nie. Die doelwit is net bietjie anders — nie meer die verhoog nie, maar om in my af-tydperk vir die 2027-seisoen verder te groei.”

Met twee kategorietitels en die algehele vroue-titel agter haar naam sluit sy dié deel van haar seisoen op ’n hoogtepunt af. Haar volgende uitdaging lê nou in die werk tussen kompetisies, terwyl sy haar visier op 2027 stel.

Marais is ’n oudleerder van Hoërskool Oudtshoorn. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Harde werk is goud werd"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*