Franklin Delport (54) is in die Oudtshoorn-streekhof tot effektief 13 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Flip Hendricks, alombekend as “Boere”, en regsverydeling.
Hy is 13 jaar vir moord en twee jaar vir regsverydeling opgelê. Die vonnisse word samelopend uitgedien. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Delport het Hendricks op 8 April 2024 by die Bridgton-vulstasie doodgesteek nadat hulle oor geld gestry het. Hendricks het met ’n bebloede hemp uit die Corsa-bakkie gespring en ’n ent verder inmekaargesak.
’n Ooggetuie, Heinrich Hunter, het getuig dat hy gesien het hoe Delport vir Hendricks met ’n mes net onder sy sleutelbeen steek.
Volgens Hunter het Hendricks die mes uitgetrek en weggegooi, waarna Delport dit opgetel en die bloed met sy hemp afgevee het.
Delport het erken dat hy Hendricks een keer gesteek het, maar aangevoer dat hy uit selfverdediging opgetree het. Hy het onskuldig gepleit op moord, maar skuldig op strafbare manslag. Die staat het dié pleit nie aanvaar nie.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof versoek om van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar af te wyk. Hy het onder meer aangevoer dat die moord nie beplan was nie en dat Delport die enigste broodwinner van sy huishouding is.
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat Delport nie uit selfverdediging opgetree het nie. Sy het benadruk dat elke saak op sy eie meriete beoordeel word.
Metembo het ná vonnisoplegging aangedui dat Delport om verlof sal aansoek doen om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer. (GARNETT WICOMB)
Franklin Delport kry 13 jaar tronkstraf

Be the first to comment on "Franklin Delport kry 13 jaar tronkstraf"