Drie inskrywings, drie SA Champions vir Nuts About Garlic

Foto verskaf

Wat in 2020 tydens die Covid-19- inperking as ’n plan begin het om ’n bykomende inkomste te verdien, het in enkele jare gegroei tot ’n Klein Karoo-handelsmerk wat nou vir die tweede agtereenvolgende jaar nasionale erkenning ontvang.

Die Klein Karoo familieonderneming, Nuts About Garlic het vanjaar ’n besondere prestasie by die South African Preserve Championships 2026 behaal toe al drie produkte wat hulle ingeskryf het, as SA Champions aangewys is.

Die drie bekroonde produkte is Pickled Garlic Herb, Smoked Pickled Garlic Jalapeño en Garlic & Jalapeño Stuffed Olives.
Die toekennings is op 27 Augustus tydens die kampioenskappe se prysgeleentheid by Eensgezind buite Durbanville oorhandig.

Die kompetisie, wat deur Agri-Expo aangebied word, het vanjaar 700 inskrywings van 85 vervaar- digers gelok. Die produkte is deur ’n paneel van 61 beoordelaars in ’n blinde proeproses beoordeel.

Uiteindelik is 113 produkte van 43 vervaardigers as SA Champions in hul onderskeie klasse aangewys.

Vir Nuts About Garlic was die uitslae besonder spesiaal, aangesien elkeen van hul drie inskrywings ’n SA Champion-toekenning ontvang het. Dit is boonop die tweede jaar agtereenvolgens dat die onderneming by die South African Preserve Championships met SA Champion-erkenning wegstap.

Nuts About Garlic het in 2020 op die familieplaas Aalwynkoppe, sowat 45 km buite Oudtshoorn aan die voet van die Swartberge, ontstaan. Die onderneming is deur die Malan-familie opgebou nadat hulle tydens die inperking na ’n alternatiewe bron van inkomste begin kyk het.

Wat aanvanklik met ingelegde knoffel begin het, het sedertdien tot ’n uitgebreide reeks spesialiteitsprodukte gegroei. Vandag sluit hul reeks onder meer verskillende geure ingelegde knoffel, knoffelgevulde olywe, knoffel- en olyfpasta, gegeurde knoffelsoute, Farm Dust-geurmiddel en verskeie ander produkte in.

Vars knoffel word op Aalwynkoppe, naby die Swartbergpas, verbou en geoes, terwyl Nuts About Garlic ook met plaaslike en kleiner produsente saamwerk wat knoffel vir die onderneming groei.

Die naam Nuts About Garlic verwys na die twee gewasse waarmee die familie nou verbind is – knoffel en amandels.

Die onderneming plaas ook sterk klem op plaaslike produksie, werkskepping en die ondersteuning van ander produsente. Oor die afgelope paar jaar het Nuts About Garlic se produkte al hoe wyer verspreiding en blootstelling gekry, met die onderneming wat ook aan verskeie uitstallings en landbougeleenthede deelneem.

Hul jongste prestasie kom te midde van sterk groei in die South African Preserve Championships. Die eerste kampioenskappe in 2025 het 456 inskrywings van 66 vervaardigers gelok, teenoor die 700 inskrywings vanjaar.

Vir die Malan-familie is die drie SA Champion-toekennings nóg ’n mylpaal in ’n onderneming wat in net ses jaar van ’n klein familieprojek op ’n Klein Karoo-plaas tot ’n groeiende Suid-Afrikaanse handelsmerk ontwikkel het. Drie produkte ingeskryf, drie SA Champions – en nog ’n nasionale pluimpie vir ’n Klein Karoo-onderneming.

Be the first to comment on "Drie inskrywings, drie SA Champions vir Nuts About Garlic"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*