Musiekmeester van Oudtshoorn deur KKNK vereer

Bo: John Theodore. Foto: KKNK

John Theodore, die bekende musiekonderwyser is vanjaar een van vyf vererings wat deur die KKNK gemaak word. Hy ontvang vanjaar die KKNK-prys vir diens aan die kunste. Theodore het dekades se musiekonderrig en mentorskap agter sy naam en dit is ook onder sy leiding dat die bekende pianis, Sulayman Hamman, reeds op skool begin skitter het.

Die KKNK het hierdie week in ’n vrystelling gesê Theodore is ’n Oudtshoorniet in murg en been wat sy eerste musiekles by die Holy Cross Convent op Oudtshoorn ontvang het.

Nadat hy in 1973 gematrikuleer het, het hy musiek aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Hy het ’n meestersgraad in musiek behaal.

In ’n onderhoud met die KKNK sê Theodore: “My pa het in langarmmusiek-orkeste gespeel, maar het nooit formele musiekopleiding gehad nie. Ek en my drie broers was almal musikaal.

Dit was ook saam met my broer Clive wat ek in 2003 my eerste KKNK as feesganger bygewoon het.”

Theodore sê hy het die KKNK sien groei, maar dat klassieke musiek eers ’n werklike tuiste by die Klein Karoo Klassique gevind het.

Dié fees word later vanjaar vir die 16de jaar aangebied.

In reaksie op die vraag wat hy as sy grootste bydrae tot die kunste sien, het hy gesê: “Dat ek ’n baanbreker was en ook ’n rolmodel. Ek het myself nooit as ’n rolmodel gesien nie, maar toe het iemand my daarop gewys dat prof. Franklin Larey, die Suid-Afrikaanse pianis wat in die buiteland klas gee, my as ’n rolmodel sien.

Ek is ook ’n geleentheidskepper. Van my tyd in die onderwys tot hoe ek by die KKNK kon help om leerlinge en kore te laat optree.”

Oor die toekoms van die KKNK sê hy dit is sy droom dat die fees volhoubaar sal bly, dat deelname uit die buiteland sal groei en dat die gemeenskap by die fees sal baat.

Die ander vier vereerdes vir 2025:
Marion Holm ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking.
Lee-Ann van Rooi is die ontvanger van die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys.

Die Heuwels Fantasties ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir innoverende denke. Henk Serfontein is 2025 se feeskunstenaar. (HANNES VISSER)