Dysselsdorp verheug oor nuwe klaskamers

Bo: Gaste tydens die opening van die klaskamers by Dysselsdorp Primêr. Onder: Die skoolhoof van PJ Badenhorst Primêr, Enrique Pietersen spreek sy dank teenoor die departement uit. Foto’s Hannes Visser

Drie skole in Dysselsdorp het die nuwe skooljaar op Woensdag 15 Januarie ingegaan met vyf klaskamers vir leerders met spesiale behoeftes. Verskeie amptenare van die WKOD, personeellede, skoolhoofde en ouers het die amptelike opening van die klasse by Dysselsdorp Primêr bygewoon.

Dié skool het drie klaskamers vir leerders met spesiale behoeftes bygekry. Die ander klaskamers is by PJ Badenhorst Primêr en Dysselsdorp Sekondêr wat elk een klaskamer het.

Die skoolhoof van PJ Badenhorst, Enrique Pietersen, het Woensdag gesê dit is lewensveranderend vir Dysselsdorp. “Hier is kinders in ons skole wat net deur die krake val en verdwyn, want hulle kan eenvoudig net nie in die hoofstroom vorder nie. Nou is daar spesiale ruimtes geskep vir daardie kinders wat spesiale behoeftes het.”

Volgens Caren Herbst van die WKOD se distrikskantoor, is hierdie die eerste projek in die provinsie wat daarvoor voorsiening maak dat leerders met spesiale behoeftes hulle hele skoolloopbaan in spesiale onderwys in hulle eie gemeenskap te kan voltooi.

Sy sê die projek gebruik ’n gediffirensieerde weergawe van die normale leerplan en is baie prakties gerig. Die projek is inklusief wat beteken die leerders is 100% deel van alle aktiwiteite by die skool.

Daar is tans 15 tot 18 leerders per klas en die projek kan moontlik na ander onderwyskringe en -distrikte uitgebrei word.

Die projek beteken ook addisionele personeel vir die drie skole. Elke klas het ’n onderwyser sowel as ’n assistent wat na die onderrigbehoeftes van die leerders omsien.

’n Ouer wat by die opening was, het aan Die Hoorn gesê sy is verheug dat daar nou ’n plek is waar haar seun ook kan skoolgaan sonder om te voel dat hy niks kan vermag nie.

“Daar is kinders wat regtig nie die skoolwerk kan baasraak nie. Hulle gaan elke dag skool toe, maar dan moet hulle net besig gehou word, want hulle kan nie die werk doen nie. My kind kan nou in ’n klas wees saam met ander met dieselfde probleme. Daar is nou hulp vir hulle. Dit is ’n groot klip van my af.” (HANNES VISSER)