Die tyd stap vinnig nader vir vanjaar se matrieks, met die 2026 Nasionale Senior Sertifikaat-eindeksamen wat op Dinsdag, 13 Oktober, begin.
Vir graad 12-leerders regoor die land beteken die volgende twee weke die laaste belangrike voorbereiding voordat hulle die eindstreep van hul skoolloopbaan aanpak.
In die Wes-Kaap alleen sal meer as 71 000 voltydse matriekleerders vanjaar die eindeksamen aflê.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het leerders aangemoedig om die oorblywende tyd verstandig te gebruik, gefokus en gedissiplineerd te bly en ook genoeg slaap te kry.
Met die rekordeksamen nou agter die rug, is dit ook ’n goeie tyd vir leerders om te bepaal waar hulle nog sukkel en hul voorbereiding eerder op dié afdelings toe te spits as om bloot alles van voor af te probeer leer.
Die WKOD se aanlyn matriekondersteuningsplatform (westerncape. gov.za/education/matric-support) bied onder meer vorige eksamenvraestelle en memorandums, studie-gidse, vakspesifieke ondersteuning en video’s wat leerders gedurende die laaste paar weke kan gebruik.
Leidrade vir die laaste paar weke:
• Werk met ’n realistiese rooster. Deel die tyd wat oorbly tussen jou vakke op en gee ekstra aandag aan dié waarmee jy die meeste sukkel.
• Gebruik vorige vraestelle. Probeer dit onder eksamentoestande voltooi en gebruik die memorandum daarna om te bepaal waar jy punte verloor.
• Moenie net lees nie. Toets jouself deur antwoorde neer te skryf, begrippe hardop te verduidelik en probleme self uit te werk.
• Werk aan swak plekke. Die rekordeksamen kan ’n goeie aandui-ding gee van onderwerpe waaraan nog aandag gegee moet word.
• Neem gereelde kort pouses. Lang ure agter ’n boek beteken nie noodwendig dat meer geleer word nie.
• Slaap genoeg. Deurnag leer kan konsentrasie, geheue en prestasie die volgende dag benadeel.
• Ken jou eksamenrooster. Maak vooraf seker op watter dag en tyd elke vak geskryf word en wat jy na die eksamenlokaal moet saamneem.
• Vra betyds hulp. Indien daar steeds werk is wat jy nie verstaan nie, praat nou met ’n onderwyser of klasmaat eerder as om tot die laaste oomblik te wag.
Leerders kan ook die WKOD se Matric Support-platform gebruik vir gratis studiemateriaal, vorige vrae-stelle en ander hulpbronne ter voorbereiding van die eindeksamen.
Vir die klas van 2026 is die eindstreep nou binne sig. Hou kop, hou moed en vat elke vraestel soos dit kom.
Die Hoorn wens alle matrikulante alles van die beste toe met hul eind-eksamen.

Be the first to comment on "Matrieks, die eindstreep wink"