55ste Oudtshoorn Skaal lok modelvlieëniers van regoor SA

’n Lugfoto van sommige van die modelvliegtuie wat die naweek te sien was. Foto verskaf

Die 55ste Oudtshoorn Skaal het van Donderdag 24 September tot Sondag 27 September weer modelvlieëniers van regoor Suid-Afrika na Oudtshoorn gelok.

Altesaam 51 modelvlieëniers het vanjaar aan die byeenkoms deelgeneem, met meer as 140 modelvliegtuie wat gedurende die vier dae in die lug, op en langs die aanloopbaan te sien was. Al die vliegtuie wat by Oudtshoorn Skaal vlieg, is skaalmodelle van werklike vliegtuie.

Die verskeidenheid het weereens gewissel van klassieke vliegtuie en groot propelleraangedrewe modelle tot vinnige straalvliegtuie.

Deelnemers het van verskeie dele van die land gereis, onder meer van Bloemfontein, Upington, Pretoria, Kaapstad en die Weskus. Die deelnemer wat die verste gereis het, het meer as 1 400 km vanaf Lydenburg afgelê om die geleentheid by te woon.

Oudtshoorn Skaal het oor die jare een van die oudste en gevestigde byeenkomste op Suid-Afrika se modelvliegkalender geword.

Wat die Oudtshoorn-byeenkoms besonders maak, is dat die modelvliegtuie die geleentheid kry om vanaf ’n volgrootte aanloopbaan te vlieg, iets wat veral vir die groter skaalmodelle en straalvliegtuie ideaal is.

Vanjaar se byeenkoms het voortgebou op ’n geskiedenis van meer as vyf dekades waarin modelvlieëniers, bouers en lugvaartliefhebbers jaarliks in Oudtshoorn bymekaarkom om hul vliegtuie te vertoon en te vlieg.


Die bestuur en organiseerders van Oudtshoorn Skaal het hul dank uitgespreek teenoor die borge en organisasies wie se ondersteuning die aanbieding van die 55ste byeenkoms moontlik gemaak het.

’n Besondere woord van dank gaan aan dr. Alex Kuys, Gideon de Villiers en Malan Jonck vir hul skenkings, asook aan Ubuntu Sekuriteit vir hul ondersteuning tydens die geleentheid.

Die organiseerders het ook Oudtshoorn Aero Club bedank vir die gebruik van hul geriewe en fasiliteite asook TFASA vir die gebruik van die aanloopbaan.

Hobby Flight Centre is ook vir hul ondersteuning en betrokkenheid by die geleentheid bedank.

Met meer as 140 vliegtuie en deelnemers wat van so ver as Lydenburg gereis het, het die 55ste Oudtshoorn Skaal weer gewys waarom dié byeenkoms steeds ’n belangrike datum op die kalender van Suid-Afrika se modelvlieggemeenskap is. (ANGELIQUE ERASMUS)