Klein Karoo Saad (KKS) het vanjaar weer groei getoon en sy omset tot sowat R1,1 miljard verhoog, ondanks ’n sterker rand, klimaatuitdagings en ’n jaar waarin die maatskappy aansienlik meer in tegnologie, uitbreiding en sy produsente belê het.
Dié syfers is tydens KKS se jaarlikse erkenningsaand op Dinsdag, 22 September, bekend gemaak, waar sowat 500 produsente, personeel en genooide gaste saamgekuier het. Dit was die grootste bywoning nog van die jaarlikse geleentheid, en ’n hoogtepunt op die kalender.
KKS het reeds in 2025 ’n belangrike mylpaal bereik toe die omset van die saadgroep en sy filiale vir die eerste keer die R1 miljard-kerf verbyge-steek het. Vanjaar het die omset volgens die syfers tydens die erkenningsgeleentheid bekend gemaak is, toegeneem tot meer as R1,1 miljard.
Suid-Afrika se saad is wêreldwyd in aanvraag
Die omvang van Suid-Afrika se saadbedryf en KKS se rol daarin het sterk na vore gekom.
Die waarde van Suid-Afrika se groentesaaduitvoere het van R537 miljoen in 2021 tot R1,3 miljard in 2024 gegroei, terwyl uitvoere van die 2025-oes, bykans die R1,5 miljard-kerf oorskry het. Volgens syfers wat tydens vanjaar se KKS-geleentheid gedeel is, het die maatskappy se aandeel in Suid-Afrika se totale uitvoere tot 47,8% gestyg, teenoor sowat 44% in 2024.
KKS se aandeel in spesifieke gewasse, behels sowat 62% van uiesaad, 36% van wortelsaad en ongeveer 58% van alle soorte lenteuie-uiesaad wat in die betrokke jaar deur KKS uitgevoer is.
Die verhouding tussen dié produsente, die maatskappy en sy internasionale kopers bly volgens KKS die kern van die besigheid.
Dit is tydens die aand met ’n driepootpot vergelyk: die maatskappy, kopers en produsente vorm elk ’n poot en indien een ontbreek, kan die pot nie regop bly nie.
Stewige bydrae tot KKS resultate vanaf alternatiewe produkte:
Hoewel bydrae van saadproduksie vanjaar laer was as gevolg van die sterk rand, het ander af-delings sterk gegroei en tot die hoër totale omset bygedra.
Verkope van Kemfert, wat wat kunsmis en landbouchemikalieë insluit, het vanaf sowat R88 miljoen toegeneem tot meer as R123 miljoen vanjaar, terwyl AgroFors se omset van ongeveer R50 miljoen tot meer as R70 miljoen toegeneem het. Die bydrae van die afdelings tot KKS se sukses, was betekenisvol.
Totale aankope vanaf produsente het eweneens sterk toegeneem, met KKS wat na raming meer as R200 miljoen se bykomende produk teenoor die vorige jaar aangekoop het. Dit beteken dat aankope vanaf produsente tot meer as R720 miljoen gestyg het.
Dit kom ondanks ’n moeiliker winsjaar.
KKS se netto wins het volgens die voorlegging met ongeveer 25% gedaal, hoofsaaklik teen die agtergrond van groter beleggingsrente en wisselkoersdruk.
Tog is ongeveer R68 miljoen vir aanvullende betalings aan produsente beskikbaar gestel – slegs effens minder as die rekordbedrag van R70 miljoen wat die vorige jaar goedgekeur is. In 2025 was dié R70 miljoen reeds ’n rekordbetaling aan produsente.
Volgens KKS word ongeveer 55% van die netto wins op dié manier weer in produsente terug-geploeg.
Sterk rand kos miljoene:
Die wisselkoers het vanjaar ’n beduidende invloed op KKS se resultate gehad.
Vir ’n uitvoergedrewe onderneming beteken ’n sterker rand dat minder rand ontvang word vir elke dollar wat verdien word. In die afgelope jaar het KKSP tussen R2 en R3 per dollar minder gekry vir elke $1 verkope wat gemaak is. Die impak hiervan op KKS se inkomste is op tussen R50 miljoen en R70 miljoen geraam.
Dit maak die groei in omset des te meer betekenisvol, maar beklemtoon terselfdertyd hoe blootgestel die saadbedryf aan faktore buite produsente se beheer is.
Klimaat en tegnologie bepalend vir die toekoms:
Weerstoestande bly een van daardie faktore.
KKS hou internasionale weerpatrone, waaronder die ontwikkeling van El Niño, noukeurig dop. Die impak van vloede en ander uiterste weerstoestande die afgelope seisoene het ook opnuut die veranderende klimaat en die risiko wat dit vir saadproduksie inhou, beklemtoon.
Terselfdertyd kyk die maatskappy toenemend na tegnologie om risiko te bestuur en gehalte te verbeter.
Nuwe toerusting wat van kunsmatige intelligensie (KI) gebruik maak om saad te sorteer, vorm deel van KKS se voortgesette belegging in sy verwerkingsaanlegte.
Volgens KKS is die doel nie bloot om nuwe tegnologie ter wille van tegnologie aan te koop nie, maar om KKS as een van die mees tegnologies gevorderde saadmaatskappye te posisioneer en tegnologie te gebruik om gehalte, akkuraatheid en doeltreffendheid verder te verbeter.
Reeds in 2025 is drie nuwe saadskoonmaaklyne bygevoeg en elektroniese sorteringskapasiteit uitgebrei, wat die saadskoonmaakafdeling se kapasiteit met sowat 60% verhoog het.
Navorsing en kommunikasie met produsente:
Die verhouding met produsente strek ook verder as bloot kontrakte en aankope.
KKS is by verskeie navorsings- en ontwikkelingsprojekte betrokke, waaronder die Wageningen-projek en navorsing oor bye in samewerking met die Universiteit van Pretoria.
Bestuiwing bly ’n kritieke deel van groentesaadproduksie en verdere werk word ook rondom byevangers en beter bestuiwingspraktyke gedoen.
Deur Klein Karoo Finansiële Dienste (KKFD) word daar terselfdertyd gewerk om onder meer versekering meer bekostigbaar en toeganklik vir produsente te maak.
Die boodskap aan produsente was duidelik: die maatskappy wil nie slegs saad koop nie, maar saam met sy produsente groei en oplossings vind vir die uitdagings wat die volgende generasie landbou in die gesig gaan staar.
Belê ook in jongmense en sport:
KKS se betrokkenheid strek ook verder as die plaashek.
Die onderneming ondersteun verskeie skole en sportinisiatiewe, waaronder Oakdale Landbouskool, Langenhoven Gimnasium, Laerskool Wesbank, die SWD Arende en Boland Landbou, asook die KKS-sporttoernooi.
Die maatskappy se betrokkenheid by plaaslike sport het die afgelope paar jaar merkbaar uitgebrei. Die eerste KKS-Gimmies-sporttoernooi is in 2025 met ’n borgskap van R200 000 geloods.
Hierdie ondersteuning vorm deel van ’n groter uitgangspunt wat tydens die aand deur Johannes Delport verwoord is: “Ons moet nie net vra wat goed is vir vandag nie, maar wat goed is vir die volgende geslag.”
30 Jaar se diens en lojaliteit deur KKS vereer:
Een van die aand se besonderse oomblikke was ’n spesiale erkenning aan David Malan, Pieter Burger en Riaan van der Westhuizen vir 30 jaar se lojale diens.
Malan vertel dat na sy aanstelling laat in 1995, was Pieter en Riaan van sy eerste aanstellings en ook van sy mees suksesvolle aanstellings. Hulle lojaliteit en ongelooflike bydrae tot die maatskappy se sukses, kan nooit oorbeklemptoon word nie. In sy huldeblyk aan hulle het Malan verwys na die kameraadskap, wat oor tyd tussen hulle ontwikkel het.
Met die hulp van sulke toegewyde personeel, het Malan oor drie dekades deel geword van KKS se groei van ’n gevestigde plaaslike saadonderneming tot ’n maatskappy met ’n beduidende internasionale voetspoor.
In die huldeblyk aan hom is daar benadruk dat ’n nalatenskap nie bloot gemeet word aan wat iemand self bereik nie, maar ook aan wat ander mense onder sy leiding kon bereik.
“Vertroue kan nie gekoop word nie – dit moet verdien word,” was deel van die boodskap. Deur goeie én moeilike tye was die uitdaging om aan te hou glo, te bou en vorentoe te kyk.
Malan het op sy beurt die personeel en Direksie bedank en benadruk dat die onderneming se prestasies nie sonder die mense agter die besigheid moontlik sou wees nie.
Die erkenning van 30 jaar was daarom nie bloot ’n terugblik op drie dekades se diens nie, maar ook ’n erkenning van die mense wat gedurende dié tyd saam gegroei het.
En dalk som dit KKS se boodskap vir die jaar die beste op: om sukses nie bloot te meet aan die oes wat vandag ingebring word nie, maar aan die saad wat geplant word vir dié wat môre moet oes.
Bo: Een van die aand se besondere oomblikke was die erkenning van David Malan, Riaan van der Westhuizen en Pieter Burger vir hul 30 jaar se lojale diens.
Bo: Demi-Lee Moore het as gaskunstenaar tydens die Erkenningsaand opgetree en gaste vermaak. Sy het spesiaal ’n versoek van David Malan, die country liedjie, Amanda, gesing. Die duet is saam met Steve Hofmeyer opgeneem. Die lied is oorspronklik deur Don Williams in 1973 gesing.

Be the first to comment on "KKS groei verder en belê in produsente, tegnologie en die volgende geslag!"