Oudtshoorn-boorling Marnus Botha verteenwoordig Suid-Afrika tans by Mister Global 2026 in Thailand, waar deelnemers van regoor die wêreld om die internasionale titel meeding.
Botha, ’n alumnus van Langenhoven Gimnasium, is in Oudtshoorn gebore en het hier grootgeword. Hy woon tans in Somerset-Wes. Hy het reeds in Thailand aangekom vir die kompetisie wat van 29 September tot 11 Oktober duur. Die Mister Global-finaal vind op Saterdag, 10 Oktober, by die MCC Hall in Nonthaburi plaas.

Volgens Botha begin elke reis met ’n keuse, en syne het begin met die besluit om elke dag ’n beter mens te wees as die vorige dag.
“Dit is vir my die grootste eer om die pragtige nasie van Suid-Afrika te verteenwoordig,” sê hy.
Sy deelname volg op ’n sterk vertoning by Mister Global South Africa 2025, waar hy as eerste naaswenner geëindig en ook die Public Choice Award en Charity Award gewen het. Hy is later gekies om Suid-Afrika vanjaar by die internasionale kompetisie te verteenwoordig.
Hy werk as stads- en streekbeplanner by die Stad Kaapstad en sê sy werk behels dat hy daagliks help om gemeenskappe te vorm, geleenthede te skep en tot infrastruktuurbeplanning en dienslewering by te dra.
Buite sy loopbaan staan sy gesin sentraal. Botha en sy vrou, Marguerite, is ouers van twee kinders.
Volgens Botha herinner sy gesin hom daaraan dat die sterkste mans nie dié is wat alles perfek doen nie, maar dié wat kies om so goed moontlik vir hul gesinne te sorg.
“’n Man se karakter word nie bepaal deur die pak wat hy dra of die applous wat hy ontvang nie, maar deur wie hy is wanneer niemand kyk nie.
“Die grootste nalatenskap wat ons kan agterlaat, is nie wat ons vir onsself bereik het nie, maar wat ons vir ander moontlik gemaak het,” vertel hy.
Dié ingesteldheid word ook weerspieël in sy gemeenskapswerk. Botha is as vrywilliger by die Somerset West Night Shelter betrokke. Die organisasie bied onder meer verblyf en ondersteuning aan hawelose individue en gesinne met kinders.
“Gemeenskap was nog altyd deel van wie ek is,” sê Botha. Omdat hy homself eerstens as ’n gesinsman beskou, wou hy volgens hom ook op ’n manier teruggee wat op gesinne gerig is.
In sy bekendstellingsvideo verwys hy ook na Ubuntu en Suid-Afrika se diversiteit. Hy beskryf Suid-Afrika as ’n land waar elke sonsopkoms ’n verhaal van veerkragtigheid vertel, en waar diversiteit een van die land se grootste sterkpunte is.
Sy voorbereiding vir Thailand het ook steun uit Suid-Afrika se kreatiewe bedryf gekry. Botha het verduidelik dat daar ’n span Suid-Afrikaanse kreatiewe mense en ont-werpers agter die uitrustings staan wat hy tydens sy Mister Global-reis dra.
Die internasionale program het Dinsdag, 29 September, in Thailand begin. Deelnemers neem gedurende die kompetisie aan amptelike geleenthede, kulturele aktiwiteite, onderhoude en verskeie kompetisie-afdelings deel voordat die finaal op 10 Oktober plaasvind.
Met sy Oudtshoorn-wortels en sterk plaaslike bande is daar beslis rede vir die gemeenskap om trots saam te kyk. Die Hoorn wens Marnus Botha alle sterkte toe vir die res van die kompetisie.
Lees ook: