Marnus skitter eersdaags op internasionale verhoog

Marnus Botha – oud-Gimmie en ook finalis vir Mister Global 2026. Foto verskaf

Marnus Botha, ’n oud-Gimmie, gaan Suid-Afrika vanjaar by Mister Global 2026 in die stad Ubon Ratchathani in Thailand verteenwoordig, nadat hy reeds groot opslae in die plaaslike skoonheidskompetisiebedryf vir mans gemaak het.

Botha, wat tans as stadsbeplanner in Kaapstad werk, het verlede jaar aan Mister Global South Africa 2025 deelgeneem waar hy as eerste naaswenner aangewys is. Hy het ook die Publieke Keuse afdeling en Liefdadigheidstoekenning ontvang vir sy betrokkenheid by gemeenskapsprojekte en liefdadigheidswerk.

Die Hoorn het verlede jaar reeds berig hoe Botha, wat sy skoolloopbaan in Oudtshoorn voltooi het, daarop gefokus is om sy platform te gebruik om mense te inspireer en gemeenskappe op te hef.

“Ek is gereed om ons pragtige reënboognasie by Mister Global in Thailand te verteenwoordig. Dit voel nog onwerklik, maar ek is ongelooflik trots om Suid-Afrika op ’n internasionale verhoog te verteen-woordig en vir die wêreld te wys waaroor ons land gaan,” het Botha onlangs gesê nadat sy deelname aangekondig is.

Volgens die Mister Global South Africa-platform het Botha van die begin af uitgestaan as iemand met ’n doelgerigte hart, nederigheid en ’n passie vir gemeenskapsontwikkeling. Buiten sy werk as stadsbeplanner is hy ook aktief betrokke by die Somerset West Night nagskuiling, waar hy help om fondse in te samel en hoop aan hawelose mense te bring. Sy betrokkenheid by die skuiling het reeds gehelp om meer as R100 000 vir die organisasie in te samel, waarvoor hy ook met die Best Humanitarian toekenning vereer is.

Botha het die volgende spesiale boodskap aan Oudtshoorn gestuur: “Aan die mense van Oudtshoorn, dankie dat julle my gevorm het tot die mens wat ek vandag is. Ek dra nie net my eie drome saam na die internasionale verhoog nie, maar ook die trots, waardes en gees van ons gemeenskap. Om as Mister Global South Africa aangewys te word, is vir my groter as net ’n titel — dit is ’n geleentheid om te wys dat iemand uit ’n klein dorp met groot drome ook die wêreld kan inspireer. Julle ondersteuning, boodskappe en liefde beteken vir my meer as wat woorde ooit kan beskryf.”

Botha se sukses word nie net in Somerset-Wes gevier nie, maar ook hier in die Klein Karoo waar baie inwoners hom steeds as een van Oudtshoorn se eie beskou. Met sy internasionale deelname dra hy nou nie net Suid-Afrika se naam nie, maar ook dié van die groter Tuinroete- en Klein Karoo-streek die wêreld in.

Die kompetisie vind vanjaar op 29 September tot 11 Oktober in Thailand plaas, waar deelnemers van regoor die wêreld in die land byeenkom vir verskeie voorbereidings, fotosessies en amptelike verrigtinge voor die groot aand.

Mister Global word vanjaar vir die 12de keer aangebied nadat die internasionale kompetisie in 2014 van stapel gestuur is. Sedertdien lok dit jaarliks van die wêreld se aantreklikste en invloedrykste manne, met ’n sterk fokus op kultuur, leierskap, gemeenskapsbetrokkenheid en persoonlike ontwikkeling. (ANGELIQUE ERASMUS)

Lees ook:

Marnus mik vir internasionale titel

Gim-leerders skitter op die loopplank